News

“Sonstraal wat enige vertrek kon ophelder” sterf in ongeluk

’n Talentvolle matriekleerling van HTS Witbank is Saterdag in die vroeë oggendure in ’n ongeluk op die hoek van Mandela Rylaan en Jeppestraat oorlede.

La Rochelle Pretorius is dood verklaar op die toneel en haar vriendin, Eliska Joubert, word steeds in die Cosmos Hospitaal in eMalahleni behandel vir haar beserings. Die voertuig waarin hulle gery het, het gebots met ’n trok.

La Rochelle se ma, Miemie van Leeuwen, het gesê dat La Rochelle en Eliska vanaf eMalahleni na Middelburg gery het om saam met vriende by onder andere Old Boys te kuier.
Hulle was op pad terug na eMalahleni toe die ongeluk in die Middelburg omgewing gebeur het.

Volgens ’n koerantbron het die voertuig waarin die meisies gery het ’n trok getref “nadat hulle by Jeppestraat ingedraai het”.
Me. Van Leeuwen sê hulle weet nog nie wat die presiese omstandighede rondom die ongeluk is nie.

Sy het gesê dat haar dogter baie lief was vir perdry en nog tot verlede jaar aan Sanesa perdrykompetisies deelgeneem het.

La Rochelle was baie geliefd by die skool en me. Van Leeuwen het gesê dat haar dogter ’n groot impak gehad het op vele mense se lewens.

HTS Witbank het in ’n huldeblyk aan La Rochelle op Facebook haar beskryf as ’n “pragtige siel…wat jy was…’n sonstraal wat enige vertrek kon ophelder met jou kenmerkende glimlag en borrelende persoonlikheid, ons gaan jou bitter baie mis.”

La Rochelle sou aanstaande jaar begin met haar studies in Besigheidsbestuur.

Sy word oorleef deur haar ma, Miemie, pa Willie en broer, WJ.

’n Roudiens word Vrydag om 12:00 uit die NG Kerk, Witbank Suid gehou.

• Me. Van Leeuwen het pragfoto’s van La Rochelle beskikbaar gestel vir publikasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button