News

Doodsvrees onder inwoners na talle weens kragstuwings in huise skok

Skuil die dood deesdae in Middelburg se kragnetwerk?

Verskeie inwoners sê “ja”, nadat talle voorvalle waartydens inwoners deur krane en elektriese toebehore “geskok” is, gedurende die naweek rekordafmetings bereik het.

Inwoners het in hul honderde op WhatsApp-groepe gekla, waar ’n paar kragwoorde onder meer gebruik is om die Steve Tshwete-munisipaliteit te skel.
Daar was beslis rede om te kla, nadat inwoners onder andere in hul huise geskok is deur kragoplewings, terwyl groot areas van die dorp ook geen water gehad het nie.

In SADCstraat is derduisende rande se skade aangerig deur elektriese-oplewings na beurtkrag, waartydens verskeie inwoners klein “ontploffings” in hul huise beleef het.

’n Inwoner van SADCstraat, wat anoniem wil bly, het minute gelede deur trane vertel dat “sy alles verloor het.”
Haar geiser, mikrogolfoond, skottelgoedwasser, ligte en muurproppe het uitgebrand.

Haar bure het ook feitlik alles verloor, insluitende yskaste en vrieskaste, en veral selfone.
“Dis ’n ramp,” het sy huilend vertel.

Dele van SADCstraat is sonder krag en water, sedert Saterdagmore net na 04:00.

Daar is glo ’n man op ’n leer gesien kabels knip, en raadslid San-Mari Wait sê dat daar gewis ’n aanslag op die sentralesakekern se kragnetwerk is, omdat kabels nie gesteel word nie, maar bloot geknip word.

Groenkol en Mineralia was ook die heel naweek sonder water, en sekere inwoners het ’n vierde dag sonder water tegemoetloop.

DA raadslid San-Mari Wait het verlede week reeds alarm gemaak oor voortslepende krag- en water probleme in die sentrale sakekern.
“Dis was nag,” sê die veteraan raadslid oor haar naweek waartydens sy honderde oproepe van ontstoke inwoners moes beantwoord.

Die sakekern se frustrasies het sedert Vrydag, regdeur die dorp versprei met inwoners soos Yvette Boshoff van die sakekern, en Kanonkop inwoners wat bevestig het dat hulle verskeie maal deur huishoudelike elektriese toebehore, soos oonde, “geskok” is.

Inwoners het ook elektriese ladings in storte gerapporteer.

Groot gedeeltes van die sakekern was verlede week tot drie dae sonder krag, met voortslepende onderbrekings gedurende die naweek.

Die kragprobleem het vinnig na ander dele soos Aerorand en Mineralia versprei, waar watertekorte weens kragonderbrekings die hele naweek ondervind is.

Intussen het die munisipaliteit, wat tussen 500 en 900 klagtes na elke beurtkrasgfase ontvang, laat weet dat tegniese probleme met die raad se telefoonlyn ervaar word en klagtes nie normaalweg gerapporteer kon word nie.

Raadslid Wait se kollega, Deon van der Merwe, het later op WhatsApp-groepe laat weet dat die oorsny van sekere areas van beton na PVC pype, ’n toevoerprobleem op die dorp se hoofwaterlyn gehad het.

Die resultaat was droeë krane in groot gedeeltes van die dorp insluitende die sakekern, Mineralia, Groenkol en groot gedeeltes van Aerorand.

Terwyl waterprobleme die dorp dors gehad het, is kabels weer in SADCstraat geknip en gesteel, wat die area feitlik die hele naweek sonder krag gelaat het.
Die kabel is aangemeld maar kon nie dadelik vervang word nie weens verskeie ander elektriese klagtes regdeur die dorp.

“Ons sukkel al jare met kragtoevoer in die sakekern waar inwoners vir tot drie dae lank by die munisipaliteit moet smeek vir diens,” sê raadslid Wait.

Verlede week moes die munisipaliteit verskeie gesteelde kabels vervang en ook beskadigde transformators regmaak, wat weer gelei het to langdurige kragonderbrekings in die sakekern.

Boonop het inwoners van SADC-Court, ’n woonkompleks in SADCstraat, groot skade gely weens skade aan elektriese toebehore.

In Oosstraat het vandale ook ’n transformator beskadig.

Gedurende dieselfde tyd is ’n kabel by Middelburg Auto Body gesteel, wat inwoners van Cowen Ntulistraat in die donker gedompel het.

Die munisipaliteit sê watertekorte is ’n direkte gevolg van kragonderbrekings.

Die munisipaliteit is tans besig met ’n R25 miljoen projek om beurtkragskakeling by Eskom oor te neem.
Dit sal die raad magte gee om sy eie beurtkrag toe te pas, en so druk op die waternetwerk te verlig.

Fase twee van die projek het egter eers op 1 Julie met die begin van die nuwe boekjaar afgeskop.

Die munisipaliteit kan tans nie sê wanneer die raad eindelik beheer oor beurtkragskakeling sal kry nie.
Intussen is daar ook weer ’n beroep gedoen op inwoners om gedurende beurtkrag ’n oog op munisipale infrastruktuur te hou.

Die munisipaliteit het intussen ook bevestig dat skade van tussen R700 000 en R1.3 miljoen daagliks aangerig word deur kabeldiefstalle en vandalisme.
Die skatting sluit herstelwerk in.

Die munisipaliteit prioritiseer intussen alle huishoudelik klagtes en sê dat die sakekern se probleme ondersoek word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button