News

Bestuurder met sleepwa vol skape vlug, word in Middelburg vasgekeer

’n Sleepwa vol skape is gisteraand net voor middernag onder verdagte omstandighede deur die polisie gekonfiskeer na die flinke reaksie van ’n motoris.

Zander Bier was om 22:40 op pad terug na sy kleinhoewe naby Doornkop toe hy die bakkie en sleepwa vol skape opgemerk het.
Hy het agterdogtig geraak toe hy sien dat die sleepwa geen ligte of nommerplate op het nie.

Die bestuurder het langs die N11 naby Doornkop afgetrek en sy voertuig verlaat, maar toe Zander nader stap het hy vinnig in sy bakkie gespring en weggejaag.
Zander het hom dadelik agterna gesit en hulp ontbied op die landelike veiligheidsgroepe.

Die veediefstal en bredreigde spesie-eenheid, SAPS, verskeie lede van die publiek en Titon Security reaksielede het net buite Middelburg die bestuurder ingewag, en hy is net voor die Harry Gwala indraai na Dennesig afgetrek.

Die sleepwa was sonder nommerplate en die ligte buitewerking. FOTO: verskaf.

Die bestuurder het glo aan polisielede vertel dat hy die skape op ’n veiling in Groblersdal gekoop het, “volgens my kennis mag jy nie lewendige vee by ’n veiling koop sonder dat hulle behoorlik gemerk is en die volledige dokumente in plek is nie.”

Die skape het almal oorplaatjies ingehad, maar daar was geen inligting daarop nie.

Zander sê dat die polisie beslag gelê het op die skape en die sleepwa, maar dat die bestuurder nie gearresteer is nie, “hy het dokumente aan hom gehad maar dit was onvolledig, en die polisie het hom gewaarsku om te bewys dat hy die skape wettiglik bekom het as hy die skape wil terug kry.”

Die sleepwa se onderstelnommer is ook nagegaan, maar geen besonderhede van die eienaar kon daardeur nagespeur word nie.

Die veediefstal en bedreigde spesie-eenheid is tans besig om die saak te ondersoek.

Lede van die landelike veiligheidsgroep wil graag Titon Security bedank vir hulle blitsige optrede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button