Nie waar dat kind byna ontvoer is
OK Grocer in Mineralia het die videomateriaal nagegaan oor bewerings van ’n ma wat gesê het as sy nie oplettend was nie, “was my kind weg.”
Die videomateriaal wys egter die teendeel.
“Enige persoon wat twyfel oor wat regtig gebeur het, is welkom om na die videomateriaal te kom kyk. Die kind was op geen stadium in gevaar nie.”
Me. Tanja Prinsloo (eienaar, OK Grocer Mineralia) sê hulle het die videomateriaal bestudeer van die oomblik wat me. Gezelle du Plessis daar gestop het, totdat sy gery het en op geen stadium lyk dit of die kind in gevaar is nie.
Sy noem dat die videomateriaal aandui dat die vrou wat beskuldig word, nie by die kompleks was toe die ma en haar dogter daar aangekom het nie.
Daar is gesê dat ’n vrou reeds “buite” met haar kind gesels het.
Verder is daar op die videomateriaal ook gesien dat daar geen agtervolging van die ma en haar kind in die winkel was nie.
Lees ook:
Die videomateriaal dui wel aan dat ’n vrou in die betaalry met die kind gesels en hoe die dogtertjie glimlaggend saamgesels het.
Me. Prinsloo sê dit is duidelik dat die vrou ook nie die ry met opset geblok het nie.
“Sy het so lekker met die kind gesels dat sy nie gesien het die ry gaan aan nie. Toe sy egter opkyk en sien die ry het aanbeweeg, het sy dadelik vorentoe beweeg.”
Sy vermoed dat die mamma dalk ongemaklik gevoel het dat die vrou so lank met haar kind gesels het en nie dadelik aanbeweeg het nie.
Nadat die ma betaal het, is sy met die kind na buite en het gery.
“Die vrou het haar nie agtervolg nie. Sy is eers na ’n ander toonbank en het sowat 10 minute later uit gegaan en gery.”
•Mense wat oorreageer het noodgroepe die laaste paar weke op hol gehad. Daar is al verskeie kere na tonele uitgejaag, net om agter te kom klaers het die kat aan die stert beet of het oorreageer.
’n Man het ook hierdie week gekla dat hy aangeval is en nadat daar groot moeite gedoen is deur ’n veiligheidsgroep om die skuldige vas te trek, wou die slagoffer nie ’n klag lê nie.
