KYK: Trok van pad gedwing in gevaarlike jaagtog
’n Ma en haar 11-jarige dogtertjie was ooggetuies van ’n gevaarlike jaagtog tussen drie privaat voertuie en ’n trok op die R555 (Stoffbergpad).
Motoriste se lewe is in gevaar gestel terwyl die drie voertuie heen en weer in aankomende verkeer ingeswaai het, voordat die trok uiteindelik van die pad gedwing is.
Volgens die ma, wat versoek het om anoniem te bly, het sy en haar dogter Vrydagmiddag van Renosterstraat af by die Stoffbergpad ingedraai, op pad na die R50-damme vir ’n dag se hengel.
Nie ver van die Renosterstraat afdraai nie, het hulle gesien hoe drie stilstaande voertuie, ’n wit kar, ’n silwer VW Polo en ’n dubbelkajuit bakkie, skielik wegtrek en voor ’n trok in draai.
Al drie voertuie het probeer om die trok, wat staal vervoer het, van die pad af te dwing.
“Die jaagtog het vir ’n hele rukkie aangehou, voordat ek gedink het om dit op te neem,” het die vrou gesê.
Die drie karre kon daarin slaag om die trok van die pad af te dwing, en sy kon uiteindelik verby ry.

“My dogter kon by die venster uitloer en sien hoe twee gewapende mans uit een van die voertuie spring en beide die trok se deure oop pluk. Die trokbestuurder het ’n passasier by hom gehad, en daar is op altwee wapens gerig.”
Volgens die kind, het die wapens gelyk soos “pistole”.
Al het een van die mans ’n oranje en geel glimbaadjie aangehad, twyfel die vrou dat hulle verkeersmanne was.
“Die baadjie het gladnie die verkeersdepartement se wapen op gehad nie, en al die voertuie was ongemerk.”
Die voorval het ook voor die weegbrug plaasgevind.
“Hulle het nie ’n saak gehad met ander padgebruikers se veiligheid nie!”
• Taxi-assosiasies en hulle patrollielede voer die laaste paar maande ’n skrikbewind op die dorp, waar verskeie motoriste afgetrek is deur mans wat balaklawas dra en met aanvalsgewere gewapen is.
Een van Ayanda N Security se voertuie het ook gerol, nadat hulle ’n voertuig op die selfde wyse probeer aftrek het. Ayanda N Security is deur die Langafstand Taxi Assosiasie aangestel.
’n Paartjie was ook oortuig dat hulle gekaap word op die Loskopdampad toe ’n taxi met gewapende mans hulle met aanvalsgewere ingewag het. Hulle kon daarin slaag om om te draai, waarna die taxi by Doornkop ingejaag het. Dit is later bevestig dat die taxi se insittendes besig was om “onwettige taxi’s af te trek”.
Lees meer:
Video: Mans met swart klere en balaklawas voer skrikbewind op dorp
Video: Mans met swart klere en balaklawas voer skrikbewind op dorp
