Man in hof na mooi blondekoppie se dood
Die man wat na bewering verantwoordelik was vir die vyfjarige Amé Jansen van Rensburg se dood op 26 September 2021 in ’n ongeluk op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad) se verhoor is vandag in die streekhof uitgestel, omdat die hofrol te vol was.
Amé se ouers, Nadia en Phillip, en ’n regsverteenwoordiger van Afriforum, Wico Swanepoel, was aldrie teleurgesteld dat die verhoor nie begin het nie.
Die egpaar het egter gesê dat hulle bly is dat die saak al sover gevorder het.
“Ons kan net weer vir Afriforum dankie sê vir dit wat hulle vir ons tot nou toe beteken het.”
Joseph Hebron Maponya het in April vanjaar vir die eerste keer in die hof verskyn op klagtes van strafbare manslag, roekeloos en nalatige bestuur en bestuur onder die invloed nadat Afriforum se privaatvervolgingseenheid druk geplaas het sodat die saak op hersiening sou gaan.
Maponya was vandag weer in die beskuldigdebank.
Sy verskyning spruit voort uit die gebeure waar die pragtige blondekopdogtertjie van Nadia en Phillip gesterf het.
Die Toyota Hilux bakkie waarin die gesin gery het, het gerol op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad).
Phillip, het destyds gesê dat hy uitgeswaai vir ’n voertuig wat vanaf die aankomende verkeer reguit in hul baan ingeswenk het.
Hy het uitgeswaai, waarop die bakkie gerol en in ’n sloot op sy linkerkant te lande gekom het.
Amé het in haar karstoeltjie agter haar ma, Nadia, gesit.
Me. Janse van Rensburg het haar linker bo-arm in die ongeluk gebreek.
Mnr. Janse van Rensburg en hul seuntjie, Flippie (op daardie stadium twee jaar en nege maande oud) het nie beserings opgedoen nie.
Die persoon wat voor hul ingeswaai het, het weggejaag vanaf die ongelukstoneel.
Kort daarna het ’n ooggetuie van die ongeluk, mnr. Henry Tshepo Makena, die voertuig wat weggejaag het, agterna gesit en terug gebring na die toneel, waar die polisie hom gearresteer het.
Mnr. Makena het op die ongelukstoneel sy simpatie met Phillip betuig en gesê hy het die hele tyd aan sy eie kind gedink, terwyl hy die verdagte agterna gesit het.
• Adv. Gerrie Nel (hoof, Afriforum se privaatvervolgingseenheid) het in Augustus 2022 ’n brief aan die Nasionale Vervolgingsgesag geskryf.
Adv. Nel het gesê: “dat dit onsinnig is om nie die saak op die rol te plaas nie, omdat daar gewag word vir bloedresultate.”
Hy het gemeld dat deur bloot met die getuies te praat, kan bevestig word wat gebeur het tydens die ongeluk waarin Amé gesterf het.
Daarna het hul eenheid druk op die NVG geplaas tot die saak op die rol geplaas is.