News

Berugte polisie kaptein wen arbitrasiesaak

Die berugte kaptein Awie Geldenhuys het volgens inligting sy arbitrasiesaak teen die polisie gewen en sal op 15 November sy pligte as kaptein in die polisie hervat.

Die Middelburg Observer is vanoggend deur verskeie bronne in kennis gestel dat hy sy arbitrasiesaak gewen het en ook vergoed sal word vir die tyd wat hy afgedank was.
Die provinsiale mediakantoor het gesê dat hulle nie kommentaar kan lewer op interne aangeleenthede nie.

Daar is egter op verskeie groepe foto’s gedeel van ’n dokument wat aandui dat hy heraangestel is en weer sy pligte by die Witbank Polisie kan hervat.
Hy sal ook terugbetalings en voordele ontvang.

•Die destydse ondersteuningshoof van die Witbank Polisiestasie, kol. Bafana Mahlangu, het in Septemer 2019 bevestig dat kaptein Geldenhuys afgedank is.
Hy het gesê dat die provinsiale kantoor hulle laat weet het dat kapt. Geldenhuys afgedank is.

Op daardie tydstip was brigadier Leonard Hlati die provinsiale woordvoerder en hy het gesê dat hulle nie kommentaar kon lewer rakende werknemer/werkgewer aangeleenthede nie.

• Kapt. Geldenhuys is vroeg in 2019 geskors en ’n departementele verhoor het gevolg, waarna hy afgedank is. Die verhoor was na ’n voorval op 21 Maart 2019 waar Tarryn Meiklejohn bewerings teen kapt. Geldenhuys gemaak het.

Berugte polisieman word weer ondersoek na meisie se klagtes

Sy het destyds vir die joernalis gesê: “Die waarheid sal seëvier,” nadat sy gehoor het dat hy geskors is.

Me. Meiklejohn het klagtes van poging tot verkragting en aanranding met die opset om ernstig te beseer teen kapt. Geldenhuys, toe nog ’n lid van die Witbank Polisie, aanhangig gemaak.

Videomateriaal het later aangedui dat hy die aand by die kuierplek Tracers ’n drankie gaan drink het en sy hom bedien het.
Sy het beweer dat kapt. Geldenhuys vir haar ’n geleentheid aangebied het vanaf Tracers na haar huis in Dennesig.

Volgens haar het hy vir haar gesê “dat hy die polisieman is teen wie daar so baie sake is”.
Sy het ook gesê dat hy aanvanklik baie vriendelik was, maar “die volgende oomblik in ’n monster verander het”.

Agt dae later het kapt. Geldenhuys klagtes vir diefstal en bedrog teen me. Meiklejohn aanhangig gemaak. Dit is op hierdie tydstip onduidelik wat van daardie sake geword het.

Die dokument wat op talle WhatsApp groepe rondgestuur is, wat aandui dat kapt. Geldenhuys heraangestel is.

• Op 27 Januarie 2019 het Maryka Kleinhans in Kranspoort gesterf. Daar is later gesê dat sy uitgespring of agter uit kaptein Geldenhuys se kar geval het.
Die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat het die saak ondersoek en daar is bevind dat kapt. Geldenhuys geen skuld dra rakende haar dood nie.

Na haar dood is ’n Facebookblad: “Justice for Maryka Bezuidenhout Kleinhans” begin.

Ouers het verhouding met polisie kaptein nie goedgekeur

• Deur die jare is verskeie bewerings teen kapt. Geldenhuys gemaak en het hy tydens ’n oproep na sy selfoon in Februarie 2016 gesê dat hy nie kommentaar wil lewer op enige bewerings teen hom nie.

Hy het gesê hy wil “net aangaan met sy lewe. As julle maar net die waarheid weet. Ek gaan dit nie verder entertain nie. Onthou ek moet almal weer in die oë kyk. Ek het ’n familie en dit is onnodig om nou weer die hele ding oop te krap.”

• In 2007 is ’n verkragtingsaak op Middelburg teen hom geopen, maar die saak is later teruggetrek omdat die klaer oorsee is.

• In Februarie 2016 is ’n jong meisie op ’n sypaadjie gekry nadat kapt. Geldenhuys haar daar afgelaai het. Hy het later aan die koerant gesê dat sy self uit die kar geklim het.
Tydens ’n onderhoud met haar familie het hulle gesê dat hulle al ’n geruime tyd nie meer by die adres gebly het waar kapt. Geldenhuys haar afgelaai het nie.

Videomateriaal het later gewys dat die vrou deur kapt. Geldenhuys by Amazon’s Restaurant uitgedra is.

Die vrou het omstreeks 23:00 saam met vriende daar opgedaag en die groep van vyf jongmense het die hele aand by ’n tafel saamgekuier.
Dit was duidelik dat sy kapt. Geldenhuys geken het en het ook later na hom verwys as die “polisie-oom” toe haar ouers haar uitgevra het.

Op die video kon gesien word dat kapt. Geldenhuys kort voor middernag opgedaag en oral vriendelik gegroet is. Die jongmense aan die tafel het hom ook gegroet en hy en die vrou het ’n drukkie gedeel. Op ’n stadium kon daar ook ’n “broederlike kus” tussen die twee gesien word.

Omstreeks 01:30 het al haar vriende vertrek en sy het agtergebly.

Kort voor 02:00 het sy saam met kapt. Geldenhuys en ’n ouer man ’n drankie gedrink by die kroeg, waarna sy van daar af badkamer toe gestap het. ’n Mens kon duidelik sien dat sy onvas op haar voete was.

Sy was ’n geruime tyd in die badkamer en die videomateriaal het gewys dat kapt. Geldenhuys drie keer met die trappe opgestap het om haar te roep, aangesien die personeel aangedui het dat hulle die kuierplek wil sluit.

Die oomblik toe sy by die badkamer uitgekom het, het sy gestruikel en het kapt. Geldenhuys haar opgehelp.
Daarna het hy haar gewys om op sy rug te klim, waarna hy haar arms voor vasgevat het en haar uitgedra het.

Hulle was die laaste mense wat Amazon’s verlaat het.

• Daar is verskeie kere na kapt. Geldenhuys se nommer geskakel en ’n WhatsApp-boodskap gestuur. Hy het egter nie sy foon geantwoord of reageer op die WhatsApp-boodskap nie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button