Dit gryp, steel en roof, want dit is “silly season”
“Silly-season” is op ons, en met die feesgety kom ’n golf misdaad.
Dit is bewys met ’n skielike vlaag misdade waaronder beide besighede en woonhuise die afgelope week deurgeloop het.
Die week het op ’n sombere noot afgeskop met nuus van die Eastdene Saverite aanval Sondag, waartydens ’n groot deel van Eastdene se onderste winkelkompleks in ligte laaie gelaat is.
Die eienaar is oorval, vasgebind en beroof, voordat die winkel na ’n ontploffing in vlamme opgegaan het, wat gou na naburige winkels versprei het.
Die skokvoorval was egter net ’n voorsmakie vir die misdaadvlaag wat sou volg.
Tussen Donderdag en vandag is ’n motorfiets uit ’n motorhuis in DF Malanstraat gesteel.
Die boewe het presies geweet hoe om die huis se alarmsisteem te omseil en, nadat die motorhuis oopgebreek is en die alarm wel afgegaan het, was hulle binne vyf sekondes met die motorfiets by die erf uit, nadat die stuurstang gebreek is.
Die motorhuis se roldeur is met soveel geweld oopgebreek dat daar selfs skade aan die motorhuis se plafon was, met ’n stuk van die motorhuisraam, wat op die grond opgetel is na die inbraak.
Gedurende dieselfde tyd is daar ook by ’n huis in Oleanderstraat ingebreek terwyl nagsluipers vort is met ’n sleepwa uit ’n erf in Lilian Ngoyistraat.
In Eikestraat in Kanonkop is die vroulike eienaar van ’n Internetkafee Donderdag in haar huis oorval.
Daar was kontant in die huis, waarmee die rowers gevlug het.
In die middedorp het inwoners weer deurgeloop onder grypdiewe met verskeie motoriste wat voorvalle aangemeld het waartydens daar gepoog is om hul voertuie se deure by verkeersligte en stopstrate oop te pluk.
Die grypdiewe verdwyn bloot tussen skares voetgangers in die sentralesakekern in.
Selfone en handsakke is veral geteiken.
Woensdagaand omstreek 21:20 terwyl nagskofpersoneel by J&L Lining and Construction ’n koppie tee geniet, het ’n vyfman rowerbende op hulle toegesak.
Twee was gewapen. Tien personeellede is vasgebind en duur gereedskap is gebuit.
•Daar is verneem dat daar ook gisteraand by die perseel waar die nuwe hotel langs die Middelburg Mall gebou word, ’n rooftog was.
Mid-Alarms het die week gewaarsku data toon dat inbrake en rooftogte skerp toeneem.
Met die naderende feesgety word veral besigheidsrowe gevrees.
Volgens Mid-Alarms was daar ook ’n toename in misdade gedurende September.
Beurtkragfases bly steeds ’n doring in die vlees, en bied kriminele ’n lekker dekmantel om ongesiens rond te sluip.
