Eienaars van motorfiets, sleepwa, soek steeds
Daar was tot dusver nog geen teken van die TrippleBlack BMW 1200cc motorfiets, of ’n sleepwa, wat in twee afsonderlike voorvalle verlede week in Dennesig en Kanonkop gesteel is nie.
Die motorfiets is Vrydagmore omstreeks 01:30 uit ’n motorhuis in Steve Bikostraat gesteel, nadat ’n bende van ongeveer ses die erf se alarm-ogies omseil, en die motorhuis oopgebreek het.
Met die oopbreek van die motorhuis is die alarm geaktiveer, maar die diewe kon binne vyf sekondes die motorfiets se stuurstang breek en vlug.
Die motorfiets is na ’n wagtende wit Hilux bakkie in Bullerlaan gestoot waar dit gelaai, en weg gery is.
Gedurende dieselfde tyd, is mnr. David McLean se sleepwa uit sy erf in Lilian Ngoyistraat gesteel.
Die boewe het toegang tot die erf verkry deur die hekmotor te beskadig.

Die sleepwa, met registrasie CJ80853, was onder ’n afdak geparkeer.
Mnr. McLean sê dat hy die sleepwa onlangs by sy skoonpa gekoop het.
Die sleepwa, wat in Paarl geregistreer is, moes nog oorgedra word op mnr. McLean se naam.
Hy sê die boewe het hulle suiwer op die sleepwa toegespits.
Indien inwoners enige van die voertuie opmerk word hulle gevra om 076 675 7305 (motorfiets) en 082 043 0057 (sleepwa) te skakel.
Lees ook:
