News

Bende steel motorfiets binne sekondes

Sekondes! Dit is al wat ’n sindikaat nodig het om motorfietse te steel.

’n Inwoner vra die gemeenskap nou om hom te help soek na sy 1200cc motorfiets wat vanoggend omstreeks 01:30 binne sekondes uit die motorhuis van sy ouerhuis in Steve Bikostraat, Dennesig, gesteel is.

Jason Cox het die GS 1200 BMW motorfiets al twee jaar, met die TrippleBlack 2013 model wat net sowat 10 000 kilometer op die odometer het.

CCTV beeldmateriaal wys hoe ’n wit Lowrider Hilux bakkie verby die huis, tot in Bullerlaan ry, waar dit stop.

Op dié stadium, is sowat ses boewe reeds besig om hul weg na die motorhuis in die erf te maak, waar hulle verskeie alarm-ogies omseil.
Die boewe is verby minstens vier ogies, waar hulle handeviervoet onderdeur gekruip het.

By die motorhuis het hulle ’n koevoet uitgepluk en die roldeure wat van binne af sluit, so gewelddadig oopgebreek, dat dele van die motorhuisraam uit die muur van die motorhuis gebreek is.

Die roldeur is met so impak oopforseer dat dele van die raam deur die motorhuis se plafon gebreek het.

Die skade aan die plafon.

Die oomblik toe die motorhuisdeur oopgebreek is, het die huisalarm afgegaan.

Die boewe was egter so vernuftig dat hulle die motorfiets se stuurstang, wat gesluit was, gebreek en binne vyf sekondes met die motorfiets uit die erf verdwyn het.
Die motorfiets is toe na die wagtende bakkie in Bullerlaan gestoot waarna die boewe die nag in verdwyn het.

Hulle was duidelik net agter die motorfiets aan.

Volgens mnr. Cox ry hy nie die fiets gereeld nie, maar glo dat hy tydens ’n rit die verkeerde oog gevang het.
Gedurende dieselfde tyd is daar ook ’n sleepwa uit ’n ander erf gesteel.

Die sleepwa, met registrasie CJ80853, is gedurende beurtkrag uit ’n erf in Lilian Ngoyistraat gegaps.

Die sleepwa wat in Lilian Ngoyi gesteel was.

Veiligheidsgroepe is aan die gons want daar is ook by Oleanderstraat by ’n woning ingebreek gedurende die nag.

Mid-Alarms het die week gewaarsku dat kriminele aktiwiteite weer aan die toeneem is weens die komende feesseisoen, en sê veral besighede moet waaksaam wees.

Mnr. Cox vra dat enigiemand wat dalk die motorfiets gewaar, hom asseblief moet skakel by 076 675 7035.

@middelburgobserver

Syndicate makes off with motorbike in seconds #crime #bike #bikers #motorcycle

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button