Wat het inbrekers gespuit vra slagoffers na hulle kind nie kon wakker kry
Inbrekers het ’n kind se glimduvets van ’n wasgoedlyn af gesteel om die buit van hul strooptog by Oleanderstraat (Kanonkop) in te pak.
Op ’n Tik Tok-video kan ’n mens duidelik sien hoe die boewe kort voor 04:00 Vrydagoggend by ’n huis hoër op in Oleanderstraat verbystap.
Een van die boewe dra iets groot op sy kop, soos ’n televisie, en die ander een loop half agter die fiets wat gesteel is by die Nagels.
Bo-op die fiets is van hul buit toegedraai in iets, waarskynlik ’n negejarige seuntjie se glimduvet, wat hy vir Kersfees sou kry.
Wat almal in die huis ontstel, is dat hulle gesukkel het om wakker te word Vrydag. Daar is veral gesukkel om die een kind wakker te kry.

“Die polisie het gesê dat inbrekers soms goed deur oop vensters spuit om ’n mens vaster te laat slaap. Dis dalk ook maar goed so, want dink wat sou gebeur het as ons een van hulle in die gang gekonfronteer het!”
Iets moes die booswigte laat skrik het, want die koevoete en boutsnyers wat gebruik is om die diefwering af te sny en die houtdeur oop te breek, is buite die huis gekry. Dalk die gesin se swart kat, Mattewis?
Me. Karlien Nagel was Vrydagoggend geskok toe hulle buite kom en besef daar is by hulle ingebreek. “Ek het aanvanklik gedink ek het die houtdeur na die motorhuis oop vergeet, maar het net daarna die splinters gesien waar die deur gebreek is.”
Die inbrekers het alles wat hulle kon dra uit haar man, Carel, se versameling hommeltuie en afstandbeheerde karretjies in die motorhuis gevat.
Haar negejarige seuntjie se twee splinternuwe glimduvets, ’n donkerblou een en ’n groen een met dinosourusse op, het op die wasgoedlyn gehang. Dit blyk dat hulle die hommeltuie en afstandbeheerde karretjies daar ingepak en toegemaak het. Hulle het ook splinternuwe gereedskap wat nog in bokse was, asook ’n fiets, wat in die motorhuis gestaan het, gebuit.
Dit was egter nie genoeg nie. Die boosdoeners het besluit om ook by die huis in te breek.
’n Venster by die sitkamer se diefwering is afgesny met die boutsnyer en opgebuig, waarna hulle deur die venster geklouter het.
In die sitkamer is ’n televisie en me. Nagel se splinternuwe Samsung slimhorlosie, wat sy nog nie eers herlaai het nie, gevat.
Dit is duidelik dat hulle heen en weer in die huis gesluip het, want hulle is ook na die area waar die vrieskaste staan waar hulle dit oopgemaak en vleissakkies begin oopskeur het.
“Ek het die oggend voor die inbraak die wildsvleis gaan koop, wat se sakkies so oopgeskeur is!”
Hulle het ook in die ander vrieskas gaan krap en gevriesde brood uitgehaal.
Sy vemoed iets het hulle op op daardie tydstip laat skrik, want die vleis is net so teruggesmyt in die vrieskas en die brood is later langs die vrieskas gekry.
Me. Nagel het geen idee wat hulle die skrik op die lyf gejaag het nie, want hulle het nie honde nie.
“Ons swart kat, Mattewis, het ’n manier om op die dak te spring en in die huis rond te loop. Ek weet nie of hulle dalk vir hom geskrik het nie.”
Die boewe moes egter só groot geskrik het, dat hulle op pad na die hek, hul boutsnyer en twee koevoete neergegooi het. Een van die koevoete is op die gras en die ander een langs die motorhuis gekry.

Daar is ook van die leë bokse waarin die afstandbeheerde karretjies en hommeltuie was, op die gras gekry.
Die skade van die artikels wat gesteel is, word op sowat R100 000 geraam.
“Die ganghek se veiligheidsdeur was nie gesluit die nag van die inbraak nie, want ons bly al 12 jaar hier en daar was nog nooit moeilikheid nie! Gelukkig het al die kinders die aand in ons kamer geslaap en was die kamerdeure toegetrek. Daardie hek sal egter nooit weer oopstaan nie!”
Wat haar die kwaadste maak is dat haar kinders sedert die inbraak te bang is om te slaap.
• Me. Nagel het op hul straatgroep die volgende oggend gevra of iemand nie CCTV videokameras het wat na die straat toe wys nie.
Een van die inwoners het vir haar goedgunstiglik ’n video gestuur wat aandui dat die boewe ’n ruk by ’n huis in ’n oprit tussen bosse geskuil het hoër op in die straat, waarna hulle rustig weg geloop het. Dit was presies 03:50.
Alhoewel daar net twee gesien kan word, bestaan die vermoede tog dat hulle moontlik hulp kon gehad het.
• Die polisie het die koevoete, boutsnyer en leë bokse gevat om na te gaan vir vingerafdrukke.
• Een van hul bure, Lourien Claassen, het vanoggend vertel dat daar ’n week gelede ’n kabaal in die straat was toe ’n man heen en weer in erwe gespring het.
Hy het amper sy moses teëgekom toe hy by die Claassens se erf wou inspring en hul groot pit bulterriër hom ingewag het.
“Ons hond was baie aggressief en wou hom van die muur afhaal. Die inbrekers by Karlien-hulle het nie van ons kant af oorgekom nie, want ons hond sou hulle gebyt het.”
• ’n Paar jaar gelede het die “koevoetbende” oral in die dorp toegeslaan en voor die voet by huise ingebreek. In baie gevalle was daar kinders en selfs huishulpe tuis wat in baie gevalle vasgemaak en gedwing is om gesig na onder op die grond te lê.
Hiertydens is duvets of komberse oor hulle gegooi, sodat die slagoffers hulle nie moes sien nie.
• In 2021 is daar op ’n prokureur geskiet toe hy die koevoetbende op heterdaad by hul huis betrap het.
@middelburgobserver Thieves use a child’s glow-in-the-dark duvet to make off with TVs, a bicycle and more, after robbing a house in Oleander Sreet, Kanonkop, last Friday morning. #kanonkop #glowinthedark #crime #crimetok #crimesouthafrica #crimetiktok #middelburg #southafricacrime
Lees meer hier:
Koevoetbende skiet op prokureur toe hy hulle op heterdaad betrap
