News

Vyf jaar na skietvoorval: man gearresteer

Die familie van Gerhard Coetzer voel dat daar nou uiteindelik na al die jare geregtigheid sal kom na sy skietdood.

’n Verdagte is gister, meer as vyf jaar nadat Gerhard (29) tussen partytjiegangers in Middelburg doodgeskiet is, in Vanderbijlpark gearresteer.

“Ek kon dit nie glo nie en het gisteraand van Pretoria af Middelburg toe gery om te kom seker maak dit is nie net weer ’n storie nie,” het Pieta Coetzer, Gerhard se broer, vanmiddag gesê.

Hulle is laat gister in kennis gestel dat ’n verdagte gearresteer is en vandag in die hof in Middelburg sal verskyn.

• Phillip de Klerk het vroeër vandag in die Middelburg Landdroshof verskyn en hy bly tans in aanhouding. ’n Moordklagte word ondersoek.
Die saak is uitgestel na volgende week vir formele borgaansoek.

Phillip De Klerk. FOTO: Facebook.

• Gerhard is op 27 April 2018 by ’n huis in Walter Sisulustraat doodgeskiet.
Sy driejarige seuntjie, Ronaldo, het alles sien gebeur en het ’n forensiese maatskaplike werker nege maande na die voorval met Ronaldo gewerk.

Die persoon wat Gerhard daardie dag doodgeskiet het, is nooit in die tyd na die gebeure aangekla nie, al het almal wat by die partytjie was, gewéét wie hom geskiet het. Daar was ook kinders in die groep en een van die mans het ’n floute gehad na die gebeure.

Sy vrou, Bianca, het kort na die gebeure na vore gekom en al die jare volgehou dat ’n persoon by die partytjie met ’n wapen gespeel het en twee skote afgegaan het.

Me. Coetzer het gesê dat een skoot deur ’n buitekamervenster is en die ander een haar man getref het. Gerhard het net ’n paar treë geloop, inmekaar gesak en op die toneel gesterf.

Die polisie het later die koeëlpunt in die buitekamer gevind.

• Die dossier is op 23 Junie hierdie jaar by die nasionale vervolgingsgesag ingehandig, maar is weer teruggestuur vir die polisie, omdat daar uitstaande inligting op die dossier was.
Afriforum se privaatvervolgingseenheid is ook sedert verlede jaar betrokke om die saak te laat hersien.

• Me. Coetzer sê sy is baie beïndruk met die werk wat die nuwe ondersoekbeampte gedoen het. “In die laaste drie weke het hy meer gedoen aan die saak as wat in die laaste vyf jaar gedoen is!”

Sy het emosioneel gesê dat geregtigheid nie haar man gaan terugbring nie, “maar ek moet enduit gaan met die saak ter wille van my en Gerhard se kinders. Ronaldo is nou agt en Biané is ses jaar oud. Ek is nie bang om te getuig nie, want ek wéét wat is die waarheid.”

 
Back to top button