News

‘n Ma se pyn om afskeid te neem

Rayden is nou in die hoogste bevel as 'Chase' van al sy maatjies in die hemel.

Kristina Jansen van Rensburg het vandag verskeie kere haar sesjarige seuntjie, Rayden Rafferty, se Paw Patrol kissie gesoen.

Die wit kissie met die Paw Patrol karakters daarop het voor in die saal gestaan en is die diens gelei deur past. Carl Kitshoff.

Kristina, haar vier ander kinders, familie en vriende het langs die karaktertjies op die kis, spesiale boodskappe geskryf.

Haar boodskap was: “Spread your wings and fly high my son. Love Mommy.”

Kristina soen haar seuntjie se kissie vir ‘n laaste keer voor die lykswa ry.

Past. Kitshoff het gesê dat hy in sy geestesoog sien hoe Jesus met sy arms wyd oop gewag het dat Rayden in sy arms inhardloop.

“Ons almal moet altyd onder Jesus se wolk bly. Ons weet nie wat God se plan is nie en ons weet nie hoekom dit gebeur het nie, en alles maak nie siin nie, maar Hy is nou hier om julle te vertroos.”

Hy het ook gesê dat die dood nie die einde is nie.

“Die dood is die wenstreep. Rayden het julle verby gehardloop en hy sit op die pawiljoen en sê vir julle almal: ‘hou aan hardloop!”

Kristina het die hele tyd saggies gesnik en het haar kinders, haar ma, asook haar vriendin, Jackie Sinden, haar die hele tyd ondersteun.

Kristina het hartverskeurend gehuil terwyl die skyfievertoning gespeel het.

‘n Spesiale skyfievertoning is ook tydens die diens vertoon.

Om klein Rayden se lewe te vier, is die gang tot by die saal waar sy diens gehou is, met die Paw Patrol karakters, ‘Chase en Marshall’ versier.

Jackie het na die diens verduidelik dat haar seuntjie, Duan (3) en Rayden onafskeidbaar was. “Hulle was Chase en Marshall, partners in crime.”

Sy het met ‘n hartseer glimlag gesê: “Vandag kry Marshall bevordering tot Chief of Command, want Chase het die hoogste bevordering gekry as Chief of Command of the Little Paw Patrol Squad in heaven.”

Terwyl sy die verhaal voorgelees het, het klein Duan langs haar gaan staan, aan die kis gevat en gevra: “wanneer gaan Rayden wakker word?”

Duan Sinden (3) het aan die kis gevat en gevra wanneer Rayden gaan wakker word.

Voor in die saal was daar die woorde: “Cowboy” langs Rayden se foto.

In die begrafnisbriefie het sy tienjarige boetie, Robert, geskryf dat hy hom die naam ‘Cowboy’ gegee het.

“Hy was nog ‘n baba en ek het ‘n Blou Bul Cowboyhoed op sy kop gesit, toe sê ek: ‘Kyk Mamma, hier is my Cowboy.”

Die woorde “Cowboy” voor in die saal langs Rayden se foto.

Terwyl daar afskeid by die kissie geneem is buite, is twee blinkers-bommetjies geskiet, en kleurvolle ballonne en wit duiwe laat gaan.

In die saal waar die verversings bedien is, het dit gelyk soos ‘n regte sesjarige seuntjie se Paw Patrol partytjie met kleurvolle kolwyntjies, kinder papierbordjies en Paw Patrol karakters, “soos Rayden graag daarvan sou hou.”

Kristina en Jackie en hul gesinne wil graag almal van harte bedank wat dit moontlik gemaak het dat hulle in herinnering aan Rayden ‘n Paw Patrol roudiens kon hou.

Die familie en vriende wat Paw Patrol hemde laat maak het met die woorde: “Chase is on your case” (voor) en “Gone but not forgotten. Forever in our hearts, Cowboy” (agter).
Kristina vat aan haar seuntjie se kissie.
Kristina staan tussen die ballonne by Rayden se kissie voor die diens begin.
Kristina het die hele tyd tydens die diens saggies gehuil.
Terwyl die lykswa weg gery het, is die ballonne laat gaan en het almal geskree: “Totsiens Cowboy!”

 

 

 

 

Back to top button