EFF-lede in hegtenis geneem ná Groenewald-saak
Die rooi barette is in hegtenis geneem na die hondaanval-saak.

Die slagoffer van ’n beweerde aanranding en vier Economic Freedom Fighter (EFF)-lede is Vrydag na afloop van die Groenewald-saak wat in die Groblersdal Landdroshof voorgekom het, in hegtenis geneem.
Piet Groenewald (63), bekende eienaar van WIPS (Wildlife Investigations & Protection Services) en sy seun, Stephan Greeff (27), is verlede Donderdag, 18 Januarie, in hegtenis geneem ná ’n voorval waartydens ’n sekuriteitswag wat vir hul werk op hul plaas na bewering deur ’n hoogs opgeleide sekuriteitshond aangeval is en glo ook met ’n harde voorwerp geslaan is.
Mnre. Groenewald en Greeff het reeds verlede Vrydag hul eerste verskyning gemaak in die Groblersdal Landdroshof op ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die borgaansoek is egter laat vaar weens die opgradering van die klag na poging tot moord.
Mnre. Groenewald en Greeff is ná afloop van hul verskyning in die hof, in aanhouding geplaas tot hul volgende hofverskyning more (Woensdag) vir ’n formele borgaansoek.

Die EFF sal Woensdag opruk na die hof om te betoog teen mnr. Groenewald en mnr. Greeff se aansoek om borg. Talle boere en inwoners van die omgewing het ook gesê dat hul sal ná die hof gaan om hul ondersteuning te toon vir die aansoek om borg.
Die beweerde slagoffer in dié voorval is egter ná Vrydag se hofverskyning in hegtenis geneem deur die Groblersdal polisie vir opsetlike beskadiging.
Volgens die sekuriteitswag, Veneruru Kavari (30), ’n Namibiër, is hy gearresteer en in aanhouding geplaas Vrydag.
Hy sou glo Maandag in die Groblersdal Landdroshof verskyn, maar sê hy dat hy voor sy verskyning vrygelaat is, nadat die ondersoekbeampte op sy saak gesê het dat hy geen bewyse kon vind dat opsetlike beskadiging aan eiendom plaasgevind het nie.
Kort nadat mnr. Kavari in hegtenis geneem is, het EFF-lede opgeruk na die Groblersdal polisiestasie, omdat hul nie saamgestem het met die arrestasie nie.
Volgens mnr. Ali Malobe, EFF Sekhukhune streekvoorsitter, is dié lede gearresteer nadat hul die polisie “ondervra” het oor die arrestasie.
Die vier EFF-lede, Tshepo Mokaba, Tumelo Mpati, Tebogo Motau en Joseph Mokgeri is Vrydag in hegtenis geneem vir openbare geweld. Hul het reeds Maandag in die hof verskyn, maar die saak is uitgestel na Vrydag, 26 Januarie, vir ’n formele borgaansoek.
Lees ook:
VIDEO: Wag met panga se foon reeds lewendig voor konfrontasie