News

De La Rey weergalm om hof waar pa en seun binnekort verwag word

’n Lid van die Bittereinders is een van twee betogers wat intussen deur polisie gearresteer was.

Boere wat opgeruk het na Groblersdal vir vandag se borgaansoek van Piet Groenewald en sy seun Stephan Greeff, wat van die poging tot moord op Veneruru Kavari aangekla is, is tans besig met ’n optog ter ondersteuning van die aangeklaagde boere wat ook aan die hoof van Wildlife Investigation and Protection Services (WIPS) staan.

Kavari was ’n werknemer van WIPS wat net vyf dae vir die sekuriteitsmaatskappy van Groenewald in diens was, toe daar ’n konfrontasie tussen werknemer en werkgewer was verlede Donderdag.

Kavari beweer hy is deur Groenewald met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan, voordat Greeff een van WIPS se sekuriteitshonde op hom los gelaat het.

Die polisie het reeds minstens twee betogers, insluitende die Bittereinders se Francois van der Merwe, in aanhouding gehou nadat hulle die toegelate protes area, wat versper is, verlaat het.

Van der Merwe sou intussen by ‘n Sasol vulstasie vrygelaat word, maar volgens Willem Petzer (van Bittereinders) het polisielede intussen aanrandingklagtes teen Van der Merwe gaan lê, en sal hy nie vrygelaat word soos beloof nie.

Petzer ontken egter dat Van der Merwe in enige fisiese bakleiery met enige iemand betrokke was.

Volgens Petzer sal Van der Merwe nou ook om borg moet aansoek doen.

Boere sing onder meer Bok van Blerk se De La Rey by die protesarea waar hulle toestemming het om te vergader.
Die publiek word tans nie naby die hof toegelaat nie, net die media.
Boere marsjeer en sing De La Ry by die protesarea.

Mnr. Groenewald se vrou Elmarie, sy ander seun Wian Greeff en me. Groenewald se ma is alleen in die hof saam met joernaliste.

Uitstelle van ander sake is eers hanteer en die borgaansoek sal na verwagting binnekort afskop.

Polisiemanne deursoek almal wat die hofgebou binnekom en die deure is intussen toegemaak vir verrigtinge om te begin.

Daar word tans net op die landdros gewag.

@middelburgobserver

Ondersteuners in die Groenewald en Greeff borgaansoek-saak marsjeer deur Groblersdal se strate. #Groblersdal #WIPS #Borg #Court #Bail

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button