News

VIDEO: Staat gee toe nie genoeg bewyse vir poging to moord, verander klag terug na aanranding

Pa en seun nie vlugrisiko nie 'maar in gevaar' getuig ondersoekbeampte wat hulle bloot wil veilig hou agter tralies.

Die borgaansoek van mnre. Piet Groenewald (63) en sy seun Stephan Greeff (27), is uitgestel tot 31 Januarie nadat die hof eers na middagete tot sitting geroep is.

Die aansoek sal eerskomende Woensdag voortgesit word omdat die hof teen 16:00 verdaag het, en tyd nie aan die kant van die verdediging was nie.

Daar is ook aangekondig dat die poging tot moord klag teen die pa en seun wie daarvan aangekla word dat hulle ‘n werknemer aangerand, en toe ‘n veiligheidshond op hom losgelaat het, nou weer terug verander is na aanranding met die opset om te beseer klag.

Dit het ook duidelik in die Groblersdal Landdroshof na vore gekom dat die enigste rede hoekom die staat borg teenstaan, die veiligheid van die beskuldigdes is.

Verskeie dreigemente is glo aan die ondersoekbeampte self gemaak, hoewel hy beweer arrestasies weens die doodsdreigemente nie gemaak kon word nie, omdat die polisie kwansuis te min mannekrag het.

Konstabel Gregory Maleasenya het pas getuig dat vier mense wel tot dusver in hegtenis geneem is vir intimidasie.

Hy het egter nie meer hieroor uitgebrei nie.

Die slagoffer, mnr. Veneruru Kavari (30), beweer hy is met die handvatsel van ‘n byl geslaan is, waarna die hond hom gebyt het.

Hy beweer voorts dat hy met ‘n onbekende stof ingespuit is gedurende die voorval verlede Donderdag op mnr. Groenewald se plaas, vanwaar die Wildlife Investigation and Protections Services (WIPS), ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy, bedryf word.

Mnr. Kavari is net vyf dae voor die beweerde voorval aangestel as veiligheidswag.

Kavari beweer dat hy voor die aanranding beskuldig is van dronkenskap aan diens.

Hy is Donderdag deur sy opsigter en kollega na die WIPS kantore op Groenewald se plaas vergesel waar hy weer beskuldig is dat hy aan diens drink.

Hy het dit ontken en beweer dat mnr. Groenewald hom toe aangeval en met die bylsteel aangerand het.

Hy het kon vlug waarna mnr. Groenewald na bewering vir Greeff beveel het om die hond te laat gaan.

Kavari het oppervlakkige bytmerke op beide bene opgedoen, waarna hy na bewering met ‘n onbekende stof ingespuit is.

Kavari se broer en die polisie is toe geskakel.

Die staat opponeer borg en beweer die gemeenskap het reeds by beide die polisiestasie en by Groenewald se plaas betoog na die voorval.

Daar is ook glo reeds verskeie dreigboodskappe na me. Elmarie Groenewald (Piet Groenewald se lewensmaat) se foon gestuur, maar sy hou vol dat indien haar man en seun op borg vrygelaat word, sy nie sal vrees vir haar veiligheid of lewe nie.

Konstabel Maleasenya, wat tans minder as twee jaar in diens van die polisie is, het toegegee dat beide mnre. Groenewald en Greeff bereid was om hul paspoorte aan hom te oorhandig.

Hy het die hof versoek om pa en seun in aanhouding te hou tot daar kalmte in die gemeenskap is.

Hy het wel bevestig dat hy hulle nie wil straf met aanhouding nie, maar dat dit vir hul eie veiligheid sou wees.

Daar is ook aangevoer dat die beskuldigdes ooggetuies ken, en hul werk in gedrang kan wees as hulle vrygelaat sou word, omdat die getuies vir hulle werk en ook behuising op die plaas geniet.

Nog Groenewald nog Greeff het hangende sake teen hulle.

Me. Faith Raselomane tree namens die staat op terwyl advokaat CJ van Wyk deur Groenewald en Greeff aangestel is.

Beide mans sal more reeds ‘n volle week agter tralies wees en ontken die klagtes teen hulle.

Die landdros het voor die hof verdaag het gelas dat mnr. Groenewald gestuur word vir ‘n mediese ondersoek omdat hy moontlik ‘n ligte aanval Vrydag, na sy arrestasie, in aanhouding gehad het.

 

 

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button