VIDEO: Chaos voor hofsaak – Video wys sekondes voor honde-aanval
Inwoners van Groblersdal is vanoggend in hul huise vasgekeer met roetes rondom die dorp wat deur die polisie afgesper is.
Die polisie het besluit om pro-aktief op te tree teen waarskuwings van geweld, nadat die EFF en Bittereinders onder meer aangedui het dat hulle by die hof sal betoog met die verskyning van Piet Groenewald (63) en sy seun Stephan Greeff op ’n klag van poging tot moord, na hul arrestasie verlede Donderdag weens ’n honde-aanval op een van hul werknemers, mnr. Veneruru Kavari (30), op mnr. Groenewald se plaas.
Intussen het die Middelburg Observer ook ’n 12-sekonde video bekom wat die gebeure kort voor die honde-aanval vasvang.
Die video is deur die slagoffer, ’n werknemer van mnr. Groenewald se sekuriteitsbesigheid Wildlife Investigation and Protections Services, geneem na hy deur Greeff na die kantoor op die plaas geneem is, waar Groenewald hom in die pad gesteek het.
Mnr. Kavari is glo na die kantore op die plaas gebring nadat kollegas van hom wat saam hom ’n selfoontoring moes oppas, beweer het hy was dronk aan diens en met ’n panga gewapen.
Kavari beweer dat mnr. Groenewald hom met sy aankoms met ’n harde voorwerp oor die kop geslaan het voordat hy weggejaag is.
Hy het egter terug gekeer en pa en seun gekonfronteer.
Op die 12-sekonde video, kan gesien word hoe mnr. Groenewald doelgerig na die lsagoffer aangestap kom met wat blyk ’n stok in sy regterhand te wees.
Tussen sekonde 10 en 11 op die video, swenk die kamera na regs waar gesien kan word hoe mnr. Greeff skielik die sekuriteitshond op mnr. Kavari vrylaat.
Die honde-aanval op die slagoffer word nie gewys nie.
Mnr. Kavari kan op die opname gehoor word hoe hy sê dat die twee mans hom nader met die doel om hom aan te val.
Die slagoffer het bytmerke aan sy onderbene in die aanval opgedoen.
Daar kan ook gesien word hoe mnr. Kavari agteruit beweeg soos die mans hom nader.
Groenewald en Greeff sal vandag formeel om borgtog aansoek doen en is sedert hulle arrestasies verlede Donderdag in aanhouding.
Aanvanklike klagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer intussen teen hul opgegradeer na poging tot moord.
Intussen is die hele Groblersdal in chaos gedompel met taxis wat teen die padsluiting betoog, en alle roetes na die dorp blokkeer.
Daar word verwag dat skole ook erg ontwrig gaan word deur die oproer.
Honderde boere het intussen met bakkies by die hof opgedaag waar Middelburg Observer joernalis Janine Saayman wag vir hofverrigtinge om te begin.
@middelburgobserver WIPS hond-aanval saak: Die beweerde slagoffer se video wys die oomblik toe die hond losgelaat is. #Groblersdal #WIPS WIPSHond-aanval Groenewald-saak
@middelburgobserver WIPS Hond-aanval saak: Roetes rondom Groblersdal is deur die polisie afgesper na waarskuwings van geweld en betogings. #Groblersdal #WIPS WIPSHond-aanval Groenewald-saak