News

Skoolhoof se dogter in rehabilitasiesentrum vir beserings

Daar wag ’n lang pad van herstel vir Lynique Kruger wat die nag van 13/14 Januarie in ’n ernstige motorongeluk in die Kaap betrokke was.

Lynique is die dogter van Laerskool Kanonkop skoolhoof, mnr. Riaan Kruger.

“Ons is bly ons dogter leef,” sê mnr. Kruger en sy vrou, Angelique.

Lynique sou die Maandag in Kampsbaai begin werk en het die Saterdagaand saam met ’n vriend en nog ’n persoon gaan kuier.
Op pad terug huis toe het die ongeluk gebeur en die drie jongmense moes uit die voertuig, wat gerol het, gesny word.

Lynique en haar vriend het ernstige beserings opgedoen en die ander jongman, wat agter gesit het, net ligte beserings.

Lynique is aanvanklik in ’n staatshospitaal behandel, aangesien sy nie haar mediese-kaart by haar gehad het nie.
Me. Kruger het afgevlieg Kaap toe en gereël dat sy oorgeplaas word na die Cape Gate Hospitaal.

Daar is aanvanklik gesê dat Lynique se bekken op drie plekke gebreek is en verdere skanderings het gewys dat haar laerug (sakrum) ook gebreek is.
Die meeste beserings was aan die regterkant van haar lyf.

Tydens ’n operasie is haar bekken en rug met ’n pen geheg om te help om die beserings te stabiliseer sodat sy kan beweeg. Hulle kon egter niks doen aan die voorste gedeelte van die bekkenbeen wat gebreek is nie. Dit sal self met tyd moet aangroei.

Die egpaar noem dat die operasie goed afgeloop het en sy intussen oorgeplaas is na die Spescare-rehabilitasiesentrum in Helderberg waar daar begin is met intensiewe fisioterapie.

“Sy word geleer om met krukke oor die weg te kom en haar spiere sterker te kry. Sy mag nog glad nie op die regterkant trap nie en alle terapie word tans nog aan die linkerkant gedoen.”

Me. Kruger het verlede naweek weer by Lynique in die Kaap gaan kuier en Lynique het vir haar gesê dat sy graag op haar verjaardag (9 Februarie) reeds terug by die huis wil wees.

“Daar word vandag of more weer X-strale gedoen en sy sal Sondag ontslaan word. Dit is egter nie te sê dat sy reg sal wees om te vlieg huis toe nie. Die dokters sê sy moet eers ‘fit to fly’ wees voordat sy kan terugvlieg hiernatoe.”

• Lynique en haar ouers wil graag elke persoon wat hulle ondersteun met hul gebede bedank. “Dankie vir elkeen van julle se omgee.”

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button