
Die waterpes is opgemerk by die inloop van Loskopdam, en mnr. André Hoffman, afgetrede akwatiese ekoloog by die Mpumalanga Toerisme en Parke-agentskap het saam met mnr. Jannie Coetzee, streeksekoloog by die Mpumalanga Toerisme en Parke- agentskap, reeds van die plante verwyder.
Mnre. Hoffman en Coetzee het op 17, 19 en 20 Januarie sewe 40kg streepsakke vol hiasinte verwyder.
Die situasie word dopgehou en daar is Saterdag ook tydens die watervoëltelling by Loskopdam van die plante verwyder.
Daar is nog nie hiasinte in Loskopdam gesien nie.
Gedurende Desember was talle vakansiegangers in rep en roer oor die honderde dooie visse wat langs die Olifantsrivier naby eMalahleni opgemerk is, weens ’n toename in waterhiasinte.
Daar is ook ’n groot aanwas plante in beide Bronkhorstspruit en Witbankdam.
Tot op hede was die watervloei gelukkig nie van so aard dat die hiasinte in onbeheerbare massas na Loskopdam gespoel is nie.
Die drywende waterplant is ’n verklaarde indringerspesie en beroof die akwatiese eksosisteme van suurstof en sonlig en individuele plante skiet duisende sade wat elk weer ’n moederplant vorm, en tot agt uitloopsels elk vorm.

Die huidige hiasint probleem is niks nuuts nie, en het gelei tot die totstandkoming van langtermyn vennootskap tussen omgewingsake se Working on Water en die plaaslike King Louis cc, ’n maatskappy wat op die been gebring is deur me. Clarissa du Plessis wat eiendom tussen Middelburg en eMalahleni op die oewer van die rivier besit.
Plaaslik kan hiasinte nie soos by Hartbeespoortdam gebruik word vir kompos en bemestingaanvullings nie, omdat die plant skadelike metale absorbeer, wat deur mynaktiwiteite veroorsaak word. Hulle floreer ook in water wat verryk word deur riool.
Sade kan boonop tot twee dekades lank dormant lê.
Wanneer waterhiasinte buite beheer raak, word gif gespuit om dit dood te maak, dan verrot die plant, sink dit tot op die bodem van die dam en neem al die suurstof uit die water. Boonop is die gif ook nadelig vir waterlewe, dus word daar probeer om die hiasinte by Loskopdam se inloop uit te haal, voor dit buite beheer raak.
Loskopdam huisves tans 27 visspesies, waarvan daar vier indringerspesies is.
Die Floridabaars, wat ook ’n indringerspesie is, is eers ná 2005 onwettig in Loskopdam geplaas, waar daar vroeër jare net die Noordelike vorm van baars hier was.
Die Floridabaars se getalle het vinnig buite beheer geraak en ’n afname in klein inheemse visspesies kon opgemerk word. Daar is toe dadelik begin om die getalle te beheer, eers is daar spiesvisvang gedoen, maar hengelaars was omgekrap hieroor.
Daar is besluit om die Alien Invasive Management (AIM) visvangkompetisie te begin in 2022, wat spesifiek fokus op die vangs van swartbaars.
Tydens een van die voortdurende populasiestudies wat gedoen is, is daar besluit dat baars van 500g en kleiner uitgehaal moet word tydens hierdie visvangkompetisie. Hierdie kompetisie vind weer op 16 Maart plaas.
Karp is ook ’n indringerspesie en word ook beheer deur verskeie hengelkompetisies wat aangebied word by Loskopdam.
Lees ook: