Kardiefstal en kanonloop wys na een man
Die man wat sy naam opgegee het as “Gary Roos” toe hy die kanon wat by Hoërskool Kanonkop gesteel is, probeer verkoop het, is gisteraand gearresteer vir die diefstal van die HTS Middelburg adjunkhoof, mnr. Johan Kruger, se kar.
“Gary Roos” het gisteroggend net na 08:00 sy ID beskikbaar gestel toe hy die kanon probeer verkwansel het by Bongani Metals. Die loop is gister in die vroeë oggendure by die skool gesteel.
Sy adres is opgegee as Snyderbergstraat (Aerorand).
Nadat die personeel van Bongani Metals uitgevra het oor die herkoms van die kanon, het hy gesê dit het aan sy oupa en ouma behoort. Hy het egter vinnig in sy kar gespring en weg gery.
Die personeel van Bongani Metals het hom later by die adres wat opgegee is gaan soek toe hulle hoor die kanon is gesteel, maar by die spesifieke adres bly bejaardes, wat nie weet wie is “Gary Roos” nie.
Die Krugers, wie se kar Vrydagmiddag gesteel is, is gistermiddag omstreeks 18:00 in kennis gestel dat daar ’n Gary Roos gearresteer is na aanleiding van die kardiefstal.
Die kar, ’n Toyota Corolla, is gesteel by Middelburg Primary School, waar me. Elfrieda Kruger, skoolhou. Op CCTC videomateriaal kon gesien word hoe die persoon haar karsleutels vat.
Die man, wat se naam Gary Roos is, is gistermiddag omstreeks 17:30 in Walter Sisulustraat gearresteer toe mnr. Koos Vos die voertuig opgemerk, dit vasparkeer en die polisie gekontak het.
“Die Middelburg Polisie kon nie dadelik uitkom nie en polisielede van Vosman Polisie het gehelp dat Gary gearresteer word.”
Mnr. Vos sê hy het vroeër die dag die karretjie opgemerk toe die verdagte sy kinders by ’n skool gaan oplaai het.
Hy het opgemerk dat die voertuig nie voor ’n registrasienommer ophet nie.
Deur die loop van die dag het ’n man, wat ook geken word as Gary Roos, by Tiaan Etsebeth (reaksielid van Mid Alarms) se huis opgedaag en vertel dat hy die kar verlede week by iemand gekoop het deur die paaiemente oor te neem.
Tiaan het mnr. Vos, wat ook vir Roos ken, daarvan gesê.
Mnr. Vos sê hy het gistermiddag weer die voertuig gesien en besluit om hom vas te parkeer.
Hy het rondgevra en daar is vir hom gesê dat die man by die Build It gebou in is.
“Ek het by die een winkel gevra dat hulle die deure moet toemaak, maar hulle wou nie. Daarna het ek die ondersoekbeampte gebel en hy het per foon vir hulle gevra om die deure toe te hou totdat die polisie kom.”
Intussen het lede van die Vosman Polisie, wat in die straat verby gery het, gesien daar is iets aan die gang en agter mnr. Vos gestop.
Hy het hulle vertel dat die persoon ’n verdagte is in ’n kardiefstalsaak en dat hulle wag vir die Middelburg Polisie.
Die Vosmanlede het hulp aangebied en die man daar en dan gearresteer.
• Daar is by Bongani Metals navraag gedoen en het hulle die afskrif van die ID-boekie van die Gary Roos wat die kanon probeer verkoop het, vir die joernalis gewys.
Hulle het na die foto van die CCTV-videomateriaal gekyk van die kardief, en gemeld dat “dit hy kan wees.”
• Dit is nog nie duidelik of die persoon wat gisteraand gearresteer is, vandag in die hof gaan verskyn nie.
• Me. Kruger wil graag die persoon bedank wat gisteroggend die skoolboeke wat in haar kar was Vrydag tydens die diefstal, gevind het.
Sy noem dat ’n vrou, wat vis gevang het by ’n myndam in die eMalahleni omgewing, die boeke, haar beursie (sonder die kontant en bankkaart wat daarin was), asook haar skoolhemp, langs die dam gekry het.
Die boeke wat in me. Kruger se kar was, was graad sewe boeke, wat sy sou moes merk. Gelukkig is daar geen skade aan die boeke nie.
• ’n Anonieme bron het gemeld dat Gary vir hom gesê het dat hy oor die naweek met die voertuig Nelspruit toe gery het.
• Die polisie is tans besig met verdere ondersoek ten opsigte van die kardiefstal.
Dit kon nie bevestig word of hy ook aangekla gaan word op die inbraak en diefstal by Hoërskool Kanonkop nie.
Lees ook:
Dief wat adjunkhoof se kar buite sportterrein steel steeds weg