Teleurstelling op gesigte sal by man spook na soveelste bedrogspul
Talle bedrog slagoffers het by ’n voormalige polisieman se huis opgedaag, met verwagtig om hulle internet winskopies daar af te haal.

’n Voormalige polisieman en huidige sekuriteitsspesialis van Titon Security, Hans du Preez, waarsku inwoners om versigtig te wees vir internet winskope nadat hy gister self deur minstens vyf voertuie by sy huis verras is, met mense wat opgedaag het om hul “Facebook winskopies te kom oplaai.”
Daar is verskeie aktiewe bedrieërs op Facebook waar hulle die Middelburg Koop en Verkoop blad geïnfiltreer het.
’n Oorblufte Du Preez sê dat een van die mense wat by sy huis opgedaag het meer as R3000 gaan leen het vir ’n sitkamerstel wat op dié blad geadverteer is, met sy adres wat valslik as die verkoper s’n opgegee is.
“Toe ek tuis kom was daar vyf voertuie buite my huis, van hulle het reeds vir artikels betaal, terwyl ander eers wou kom kyk,” vertel hy.
“Die teleurstelling op hulle gesigte sal by my spook, soos die verligting op dié se gesigte wat die slenter vrygespring het.”
Du Preez sê sy adres is valslik vir almal opgegee deur ’n ene Jean Steenkamp.
Volgens Du Preez het die bedrieër ’n advertensie geplaas vir huis- en motorhuis inhoud wat dringend verkoop moes word.
Die liegbek beweer op die advertensie dat hy dringend moet kus toe trek en sy volle huisinhoud verkoop.
Die items kom natuurlik teen ’n winskoopprys soos R3000 vir ’n leer sitkamerstel.
Goed soos poeltafels en greeedskap is ook aangebied teen weggee pryse.
’n Pandjieswinkel van eMalahelni het ook in die strik getrap en meer as R3000 aan die bedrieër oorbetaal.
“Wat my walg is die feit dat van die mense wat opgedaag en vir items betaal het, dit nie breed het nie, dit nie kan bekostig nie en moes lenings maak,” sê Du Preez.
’n Plaaslike vrou is ook ’n tyd gelede ingedoen op dieselfde blad vir ’n huis nadat hulle by hul vorige huurplek uitgesit is.
Sy het die helfte van die R12 000 deposito aan die adverteerder oorbetaal, en moes die geld by haar man se werknemer leen.
Die vrou sê sy wou na die huis gaan kyk, maar dat die adverteerder eers gesê het sy is nie tuis nie, en haar later daar sou ontmoet na ’n deposito betaling van R6000, het die vrou in trane aan die Middelburg Observer vertel.
“Mense wat reeds in die moeilikheid is en sukkel om kop bo water te hou, is ongelukkig maklike teikens,” sê Du Preez.
Sy advies is om nooit betalings te maak voordat die items waarvoor betaal word eers afgelewer is nie.
Banke sluit gewoonlik die rekeningnommers van bedrieërs sodra voorvalle aangemeld word, soos in die plaaslike vrou se geval toe Capitec die adverteerder se rekening gesluit het.
Mense wat ingeloop is, moet beslis sake by die polisie gaan maak, sê Du Preez.