News

Beskuldigde in beweerde bagasiebak-moordkomplot word gedreig

Daar is vanoggend tydens die verskyning van die vier beskuldigdes in die Danie Maritz moordsaak, gehoor dat beskuldigde een, Alex Grobler, dreigboodskappe ontvang.

Grobler se regsverteenwoordiger, adv. Petrus Muzi Ntuli, het vanoggend van die dreigboodskappe voorgehou aan die hof.
Hy het gemeld dat een van die boodskappe vanoggend vir Grobler gestuur is.

Daar word onder andere gesê dat hulle weet dat hy vandag (Vrydag) ’n blou hemp in die hof dra.
Ander boodskappe sê dat hy sekere bekentenisse moet maak en ook dat hulle weet waar sy kind is.

Daar is ’n hele aantal boodskappe, maar adv. Ntuli het nie die res van die boodskappe gelees nie.

Adv. Ntuli het ook gesê dat Grobler probeer het om ’n saak te open by die Vosman Polisie, maar dat hulle hom nie wou help nie.

Alex Grobler.

Mnr. Grobler het adv. Ntuli gekontak, wat op sy beurt met ’n senior aanklaer by die Middelburg Landdros gekonsulteer het oor sy kliënt se klagte.
Die aanklaer het hulle aangeraai om ’n saak by die Middelburg Polisie te open.

Die saak is in Januarie hierdie jaar geopen en het adv. Ntuli hom ook uitgespreek daaroor dat die polisie nog nie weer sy kliënt gekontak het nie.
Landdros Vilane het adv. Ntuli en sy kliënt aangeraai om die kwessie met hul ondersoekbeampte te bespreek.

Daar is ook voorgestel dat indien mnr. Grobler weet wie die persoon is wat die dreigboodskappe stuur, hy dit vir die ondersoekbeampte moet sê. Dit sal die ondersoekproses bespoedig.

• Die vier beskuldigdes, Grobler, Jan Jordaan, Angelique Appelgryn en Kobus Pretorius het vanoggend weer vlugtig in die hof verskyn. Grobler en Appelgryn is op borg en Jordaan en Pretorius in aanhouding.

Angelique (Angie) Appelgryn.

Jordaan en Pretorius word daarvan beskuldig dat hulle Danie die nag van 15 en 16 November by ’n skrootmetaal besigheid in Middelburg vermoor het.

Appelgryn en Grobler word aangekla daarvan dat hulle gehelp het om Danie se oorskot te verwyder, in ’n bagasiebak te laai en dit in Clewer (naby ’n myn) aan die brand te steek. Dit was Appelgryn se voertuig waarin Danie se oorskot na bewering verbrand is.

Jan Jordaan.

Grobler, Jordaan en Appelgryn is kort na die moord gearresteer en het aansoek gedoen vir borg.

Jordaan se borg is geweier, omdat hy positief verbind word met die moord.

Kobus Pretorius is gearresteer nadat die ander se borgverhoor reeds verby was.
Hy het borg van die hand gewys.

Kobus Pretorius.

• Die saak is uitgestel na ’n latere datum om die lykskouingsverslag te kry. Landdros Vilane het dit ’n saak van erns gemaak dat die verslag gereed moet wees tydens die vier se volgende verskyning, aangesien die saak al van Novembermaand af kom.

• Jordaan en Pretorius bly in aanhouding.

Danie Maritz se oorskot is in die kattebak gevind nadat die voertuig uitgebrand het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button