Gereformeerde gemeente vierde slagoffer van kerkdiewe
Die Gereformeerde Moedergemeente (John Magagulastraat) is die vierde slagoffer van kerkdiewe!
Volgens gemeentelid, mnr Pieter Greenbaum, het die inbraak Saterdagnag tussen 23:00 en 03:00 plaasgevind, toe die misdadigers die moederskamer se venster oopgebreek, en die diefwering geknip het.
Die diewe het ’n luidspreker in die moederskamer van die muur afgebreek, die klanktoerusting en ’n waaier gesteel.
“Ek glo die misdadigers was al voorheen in die kerk, omdat hulle geweet het hoe om die alarmogies te vermy, en waar die klanktoerusting is.”
Mnr. Greenbaum is nie seker wie agter die inbrake by kerke sit nie, “mens kan net spekuleer. Daar is ’n riemtelegram dat daar ’n sindikaat is wat kerke teiken, maar dit kon moontlik dwelmverslaafdes of doodeenvouding opportuniste gewees het.”
Die inbraak was vir die gemeente ’n groot ongerief en het finansiële uitgawes veroorsaak om reg te maak waar die deiwe skade aangerig het, en om die klanktoerusting en luidspreker te vervang.
Dit is die vierde kerkinbraak sedert Februarie.
• Misdadigers het twee keer by die St John’s Presbiteriaanse Kerk toegeslaan.
Die eerste keer het diewe op 22 Februarie die palissades geknip en die loodglasvenster gebreek om toegang tot die kerk te kry. ’n staan-orrel en ’n gedeelte van die klanktoerusting gesteel.
Op 28 Februarie het eerwaarde Kokkie Smit ’n boosdoener betrap toe hy probeer het om die deur van die babakluis af te ruk.
• Op 25 Februarie was daar by albei die Hervormde Kerk se Noord- en Moedergemeente ingebreek.
Ds. Colin Hertzog het bevestig dat die kerk se videokamera, wat gebruik word om eredienste uit te saai, gesteel is.
Ds. Nicolaas Steenekamp van die Moedergemeente wou nie uitbrei oor wat by hulle gesteel is nie.
• Daar is op 5 April 2023 ook by die Sewendedag Adventiste Kerk ingebreek. Die diewe het groot skade aangerig deur die elektriese omheining plat te trap, en ’n venster is stukkend geslaan.
Twee luidsprekers en waaiers is gesteel.
Mnr. Tobie van den Bergh (Redakteur, Middelburg Observer) het gelukkig opgemerk dat die items in ’n veld by ’n kar ingelaai word, en Arthur Hill van die Dagpatrollie is geskakel.
Mnr. Hill kon die items aan die kerk teruggee.
Lees meer:
