News

‘Vriendelike’ lugtydboef is terug!

Die lugtydboef met die vriendelike ‘ou oom’ rasperstem is terug!

Frans van Dyk sê die booswig het sy dogter, Marizette, gebel om “vleis te skenk vir arm mense”.
Sy het al gehoor van die lugtydboef, beloof dat sy hom terug sal bel en nie weer van haar laat hoor nie.

Frans sê dat dieselfde man hom in die laaste jaar twee keer probeer inloop het.

Die eerste keer was vroeg verlede jaar toe hy Frans gekontak het met die storie dat hy ’n boer is op die Belfastpad en dat sy koelkamers af is.
Hy het te vertelle gehad dat hy nie die vleis wil laat sleg word nie en dit wil skenk vir Frans, sodat hy dit vir arm mense kan gee.

Frans het ooreengekom om na die plaas te ry.

“Hy het selfs gesê daar is wit borde met sy naam daarop langs die pad waar ek moet indraai.”

Die ‘oom’ het vir hom gevra om vir hom lugtyd te koop, want hul lugtyd was klaar. Hy sou die geld vir Frans gee, as hy op die plaas aankom.

Op hierdie tydstip het Frans besef daar is fout en sy vermoedens is bevestig toe die lugtydboef hom weer kontak en vra dat hy solank die lugtydkodes vir hom moet stuur.

Net daar het hy hom in sy peetjie in gestuur.

Desember het Frans weer ’n oproep gekry van ’n ‘boer’. Dié keer het hy op die Stoffbergpad geboer.
Frans het nie dadelik sy stem herken nie en die karnallie het met ’n heel ander storie vorendag gekom.

Hy het vir Frans gevra waarom sy nommer op sy (die man) se foon is en watter besigheid hy het.

Frans het aangeneem dit is dalk een van sy vorige kliënte en het gemeld dat dit Inyathi Tent & Canvas is.
Die man wou skielik weet of hy dalk vir hom ’n karavaan het en Frans het verduidelik dat hulle nie karavane verkoop nie.

Terwyl hy besig was om met hom te praat, het ’n klokkie in sy kop gelui en hy het die stem herken.

Die oomblik toe die ‘boer’ vir hom skaap- en varkvleis vir behoeftiges wou skenk, het Frans hom in sy peetjie gestuur.

• Die Observer het in die afgelope 10 jaar al tientalle berigte gedoen oor dié kansvatter, wat al verskeie inwoners, organisasies, besighede en selfs dokters spreekkamers ingeloop en probeer inloop het.

Hy het selfs op ’n keer ’n slangvanger van die LimPuma Herpetologiese Vereniging (wat Middelburg insluit) gevra om na sy plaas te kom, “omdat ’n swartmamba sy skape gepik het.”

Die slangvanger was al op pad na die plaas, toe hy begin met sy lugtydstorie en het die slangvanger hom mooi vertel wat hy van hom dink.

• ’n Inwoner wat kop gehou het, het direk gery na die Middelburg Observer se kantore en sy radio aangesit, sodat die joernalis die hele gesprek met die lugtydboef kon afluister. Die lugtyd-skelm wou nie ’n onderhoud met die koerant toestaan nie.

• Na al die berigte, het mense uit ander dorpe van regoor die land laat weet dat hy hulle ook ingeloop het.

• Ben Almero, van National Crime Assist (NCA), het nadat die soveelste slagoffer ingedoen is, begin speurwerk gedoen. Hy het die skuldige se spoor tot in die Bethal gevangenis gevolg.

Dit blyk ook dat gevangenes soms hulp van buite het om teikens te identifiseer. Met ander tye infiltreer hulle Facebook of WhatsApp-groepe en identifiseer so teikens.

Die lugtyd wat deur die slenter bekom word, word gebruik om in die gevangenis handel te dryf om vir goedere soos geld, sigarette of dwelms te ‘betaal’.

•’n Stemopname van ’n vorige gesprek van die lugtyd boef is na Frans gestuur wat bevestig het dit is een en dieselfde boosdoener.

• Besoek die volgende skakel om die lugtydboef se stem te hoor:

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2022/02/04/joernalis-luister-in-op-lugtydboef-gesprek/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button