Verhale oor ’n eens spogstasie op Marble Hall
Nico Rossouw, een van die laaste treindrywers wat gewerk het by die Marble Hall treinstasie, sê die stasie is ’n seeroog en dat dit hartseer vir hom is om dit so te sien.
Die store en behuising is verlate en van vergeet.
’n Marmer gedenkblad is nog in die verwaarloosde stasie te sien maar dit is ongelukkig gevandaliseer.
Die woorde op die blad kan egter nog uitgemaak word: “In dankbare nagedagtenis aan wyle Charl Malan, Minster van Spoorweë en Hawens.”
Die stasie het geen dak, venster of deur nie. Alles wat gesteel kon word, het reeds verdwyn. Al wat staan is ’n geskiedkundige leë dop.
Die treinplatform is skaars sigbaar, maar tekens van waarskuwingsverf in geel is steeds sigbaar waar die platform sou eindig. Die treinspore is moeilik sigbaar deur die bebosde omgewing.
Haweloses het in dele van die treinstasie, waar daar nog stukkies dak is, vir hulle ’n tuiste gemaak.

Nico kan amper nie glo dat daar van die pragtige ou geboue en geskiedenis daarom verweef, niks oorgebly het nie.
Hy het op 15-jarige ouderdom begin as stoker vir stoomlokomotiewe in De Aar in die Noord-Kaap. “Dit was harde, maar baie lekker werk.”
Hy het sy graad as treindrywer by Enslin Park in Johannesburg gedoen en onthou dat dit drie maande en 10 dae van intensiewe klasdraf en studie was.
Daarna het hy eers vir vier jaar op die Bloutrein as assistentdrywer gewerk, voor hy op 26-jarige ouderdom, in 1989, by Marble Hall as treindrywer begin werk het.
Te danke aan mynbou, het die Marble Hall treinstasie ontstaan.

Die belangstelling van grafsteenmakers en prospekteerders is reeds geprikkel in 1913 met die ontdekking van marmer in Marble Hall en dit het tot gevolg gehad dat die goewermentsplaas, Marble Hall, in 1916 geproklameer en as publieke delwery oopgestel is.
In 1919 is daar reeds in ’n verslag deur mnre. Tudor G Trevor (inspekteur van myne van die Pretoriastreek) en Percy A Wagner (’n geoloog), wat Marble Hall en Scherp Arabie besoek het, aanbeveel dat ’n spoorweglyn oor die springbokvlakte gebou moes word. Dit sou help dat die marmer meer ekonomies na Pretoria vervoer kon word.
Die firma, Marble Lime, is in 1929 gestig om marmer en kalkklip op die plaas Marble Hall te ontgin.
Teen 1934 het Yskor ’n groot kontrak met die myn aangegaan vir die lewering van kalkklip, wat as flokkulant in die smeltingsproses gebruik word.
Spoorwegvervoer het toe ’n noodsaaklikheid geword. Mnr. Harm Oost, LV vir Pretoria-Oos, wat op die direksie van die myn was en later ook aandeelhouer, het sy invloed aangewend vir die verlenging van die spoolyn vanaf Tuinplaats ná Marble Hall.
Hierdie spoorlyn het baie bygedra tot die ontwikkeling van die dorp.
In Augustus 1934 het die eerste trein vanaf Pretoria, die Marble Hall treinstasie binnegestoom. Die eerste trein was getooi met die Union Jack vlag, want Suid-Afrika was toe nog ’n kolonie van Engeland.

Die tweede, kleiner lokomotief, het die oud-Suid-Afrikaanse vlag gedra.
Marble Hall-dorp het mettertyd ontwikkel en is op 30 Januarie 1945 amptelik gestig.
Nico sê dat hy meeste van die tyd, gedurende sy jare by die Marble Hall treinstasie, goedere vervoer het soos lewendehawe, sitrus, groente en graan. Daar is ook in daardie tyd meer met petrolenjin-treine gery.
“Ek moes een keer as treindrywer optree vir die ‘brille en pille-trein’, ’n trein waar aptekers en oogkundiges Marble Hall besoek het om te help met die nodige ‘brille en pille’.”
Daar was ook ’n geleentheid waar hy as treindrywer opgetree het vir toeriste wat na Schoeman Boerdery geneem is om die 1990 Sitrusfees by te woon.
Die treinspoor wat deur Marble Hall na Pretoria geloop het, was meestal op turfgrond gelê.
“Dit was maar ’n slegte treinspoor, ’n mens kon nie meer as 30km per uur ry nie.”
Hy het egter lang ure gewerk, meestal nagskof, met een keer ’n week dagskof en een dag ’n week af.
Vir hom was sy tydperk as treindrywer by Marble Hall ’n fantastiese geleentheid wat hy baie geniet het.
Daar was ’n paar voorvalle, wat in sy gedagtes bly, soos toe hy tussen 02:00 en 03:00 naby Settlers met die trein verby is en ’n polisievoertuig in die trein vasgejaag het.
Hy die voertuig sien aankom teen ’n hoë spoed.
“Gewoonlik daai tyd van die oggend het ons nie die trein se fluit getrek nie, weens geraasversteuring, maar ek het op daai oomblik besluit dit is nodig om die fluit te trek. Dit het ongelukkig geen invloed op die komende voertuig gehad nie. Die polisievoertuig het in my trein vasgery.”
Albei mans het gesterf.
“Ek het later uitgevind dat die polisiebeampte, wat ’n passasier was in die voertuig, vir sy eerste skof opgedaag het daardie nag. Dit is goed wat maar by mens spook jare later.”
Hy onthou dat die treinstasie tussen 1989 en 2000 baie mooi en netjies was met die mooiste grasperk en blomme.
“Ons het later ook ’n braaier op die platform gebou, waar ons op Vrydae gebraai en gesellig gekuier het.”
Alhoewel die treinspore altyd in stand gehou is deur mnr. Willie van Staden, die baanmeester op Tuinplaats, het diefstal van die treinspore begin toeneem.
Die treine het oor die jare nie meer nodig gehad om elke dag te loop nie, met vervoerbesighede begin opspring het.
Juis omdat treine minder begin loop het, is treinspore gesteel. “Toe die trein gereeld geloop het, was daar nooit kans vir die diewe gewees om die spore te steel nie.”
Die diefstalle het later ’n baie groot probleem geword en ’n groot bydrae gelewer tot die sluit van Marble Hall se treinstasie.
Nico het in 2000 bedank as treindrywer by die Marble Hall treinstasie en begin werk vir bekende boere in die Marble Hall omgewing.
“Die laaste treindrywer het in 2002 bedank, waarna daar vir drie maande daarna nog ’n aflos treindrywer- en assistent was. Daarna het die treinstasie toegemaak.”

• Me. MC (Lena) Malan was destyds een van die eerste passasiers op die eerste tein wat die Marble Hall Stasie binnegestoom het.
56 jaar later was sy ook ’n eregas op die Orange-Blossom Express, wat tydens die Sitrusfees in 1990, feesgangers van Pretoria na Marble Hall gebring het op die stoomlokomotief, Ina.
Me. Malan was getroud met mnr. Marchie Malan. Hulle het op die plaas Elandsdoorn naby die huidige Dennilton begin boer.
Die grond wat vandag Moutse heet, is in 1939 onteien en hulle is toe weg na die Springbokvlakte.
Later het mnr. Oost hulle gehelp om na die oorlog ’n besproeiingsperseel, D21, op Vaalfontein te bekom, waar hulle geboer het tot en met mnr. Malan se dood.
Voor haar afsterwe het me. Malan in die Seringwoonstelle op Marble Hall gewoon.

