Man ry oor klip, word beroof op N4 waar ander motoris sterf na steekwond
Daar was nog ’n slagoffer van die hoofweg roofbendes wat klippe en staalpenne op die hoofweë pak.
’n Plaaslike inwoner, Tania Joubert, sê haar broer, Dirk Winterbach, het ’n noue ontkoming gehad verlede Donderdag toe hy omstreeks 20:30 op pad na Middelburg vir die Paasnaweek, oor ’n reuse klip op die N4 digby die Bronkhorstspruit-afdraai gery het, en toe deur drie mans beroof is.
Mnr. Winterbach het sowat twee kilometer vanwaar hy die klip getref het, gestop om sy pap voorwiel te ruil.
Hy het egter in die donker nie agtergekom dat hy die klip met sy agterwiel getref, en dié ook pap was nie.
Terwyl hy besig was om die band te ruil, het ’n man hom van agter gegryp.
Hy het omgeswaai en die man met sy wielseutel bygekom.
Daar was egter twee ander mans, waarvan een gewapen was met ’n pistool, wat hom beveel het om die wielsleutel te laat val.
Mnr. Winterbach is toe die bosse langs die pad ingedwing, waar hy beveel is om al die geld in sy rekening met sy selfoon na ’n rekening in ’n CashSend transaksie oor te betaal.
Daarna is sy selfoon gevat en die tasse in sy kattebak deurgesoek.
“Ons kon agterkom dat ’n hemp en broek onder meer uit die tasse gesteel is,” sê Tania.
Gelukkig was sy reeds uit Middelburg op pad om haar broer te help, nadat hy haar net nadat hy die klip getref het geskakel het met die nuus dat hy staan met ’n pap band.
Toe sy terugskakel, het sy foon net gelui.
Sy het toe besluit om daarheen te jaag.
Op pad daarheen het sy aanhou skakel maar sê dat sy foon toe skielik na stempos toe oorgeskakel het.
“Ek het toe besef daar’s groot fout,” sê sy, maar las by dat sy gelukkig kort daarna ’n oproep van twee mans gekry het, wat by haar broer langs die pad na die roof gestop het om te help.
Tania moes eers Bronkhorstspruit toe om weer terug op die N4 te kom, waar sy self die klip in die pad gesien het.
Insleepdienste moes haar broer ten duurste dorp toe sleep waar hy beide bande moes vervang.
“In sulke gevalle skakel eerder vriende as die polisie,” het sy gesê nadat hulle glo uitgetrap is die volgende dag toe hulle die voorval by die Middelburg Polisie gaan aanmeld het.
“Waar is die blitspatrollies?” vra Tania wat sê die polisie moet tog weet waar die brandkolle is, en dat die area waar haar broer oorval is, berug is vir voorvalle.
“Ek dank net die Liewe Vader dat Hy my broer in Sy hande gehou het, en daai twee mans wat gehelp het, op sy pad gestuur het,” sê Tania.
Tania het hulle storie gedeel in reaksie op ’n man wat sy lewe verloor het nadat hy op die N4 in ’n soortgelyke voorval met ’n mes gesteek is.
Die man is Sondagaand omstreeks 22:00 in die Donkerhoek omgewing op die N4 met ’n mes gesteek nadat sy bande beskadig is, en hy gestop het.
Hy is op die toneel dood.
