News

Koerante leef, al val die inkdrom soms om…

Die Middelburg Observer is sedert 1903 deel van sy gemeenskap, die eerste Paarl Post is op 14 Januarie 1905 gepubliseer en Laevelder bedien die streek al vir 138 jaar.

“Koerante is dood, lank lewe koerante.”

Sedert die doodsklok saggies gebeier het om die einde van Media24 se vlagskip koerante aan te kondig, was dit een van die vele eiertjies wat gelê is oor die dramatiese nuus van Moneyweb.co.za se Jeremy Maggs.

Maggs se berig het die vere behoorlik laat waai en professor Johannes Froneman van die Faceboekgroep, Mediamense, het die jakkals nog verder die hoenderhok in gejaag.

Die algemene kommentaar was “dit is die einde van papierkoerante”.

Wag, wag, die einde van gedrukte media nadat die inkdrom omgekeer word vir net vier koerante?

Die kar word darem lelik voor die perde gespan, terwyl daar honderde koerante, ja honderde koerante, is wat kragtig ‘n verskil maak in Suid-Afrika.

Nee, dit is nie die einde van koerante nie.

Het die afgelope maand 231 koerante deurgelees in die Avbob Forum vir Gemeenskapsjoernaliste se kompetisie vir uitnemende joernalistiek.

Daar was 77 inskrywings met drie koerante per inskrywing.

Het andermaal verstom gestaan oor die vitaliteit van hierdie koerante.

Hulle is nie dood nie, hulle is nie met die een voet in die graf nie, hulle vervul week na week ‘n onontbeerlike rol in gemeenskappe.

In elke familie is daar een of ander tyd dood. Staalfabrieke sluit, kerke gaan ten gronde, skole loop dood…

So gaan dit altyd wees, ook in die mediabedryf.

Gemeenskapskoerante se einde is met die koms van televisie in 1976 voorspel toe “mediakenners” gesê het “dorpskoerante” gaan nie oorleef nie.

Toe die sosiale media golf Suid-Afrika tref, is dieselfde voorspel en nou speel gemeenskapskoerante heerlik saam op sosiale media platforms.

Die Covid-19 pandemie het wel slagoffers geëis maar vyf jaar later en honderde dorpe reg oor Suid-Afrika het weer hulle liefling inligtingsbron terug.

‘n Vennootskap tussen gemeenskap en koerant, gedrukte koerant, wat in talle gevalle meer as 100 jaar kom.

Die Middelburg Observer is sedert 1903 deel van sy gemeenskap, die eerste Paarl Post is op 14 Januarie 1905 gepubliseer en Laevelder bedien die streek al vir 138 jaar.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die prys wat Afrikaans gaan betaal wanneer Rapport en Beeld se gedrukte weergawes gestaak word sal baie duurder wees as enige besparing.

Dit is duidelk die fokus is op Afrikaans – nie die inligtingsbron nie.

Gemeenskapskoerante worstel al vir jare om hulle Engelse en Afrikaanse gemeenskappe gelukkig te hou, maar doen die balanseertoertjie sodat hulle steeds deur hulle gemeenskap aanvaar word.

By hierdie koerante gaan dit oor totale gemeenskappe, nie net een taalgroep nie, dit is een dorp – een koerant.

Die Vader van die Gemeenskapspers en eerste redakteur van die Middelburg Observer, Oscar Henry Frewin, het gesê daar is niks beter as om naby aan die inkdrom te wees nie – hy was reg, nie net vir joernaliste nie, maar ook vir die mense van ‘n dorp, stad of voorstad.

Miskien moet sake magnaat Warren Buffett se woorde weer nadergetrek word:

“If you want to know what’s going on in your town – whether the news is about the mayor, taxes or high school football – there is no substitute for a local newspaper that is doing its job. A reader’s eyes may glaze over after they take in a couple of paragraphs about national or international news, but a story about the reader himself or his neighbours, will be read to the end”.

Vandag kan dieselfde van digitale platforms gesê word; niks kan die weeklikse ekstase van ‘n “dorpskoerant” vervang nie.

Daardie een waar jy die beriggie uitsny en bêre, gewoonlik in ‘n Bybel.

Waar die families stry wie lees hom eerste.

Wat jy kan gebruik om vuur te maak, in die pappegaai se hok los, selfs die koue verdryf uit wendy huisies soos die Koppiestraatprojek.

Waar jy in die advertensies kan gaan soek watter supermark verkoop die goedkoopste koffie.

Nee, die koerant is nie dood nie.

Hy lewe!

Back to top button