‘Kobus’ het nooit teruggekom vir hulp
Die man met die baard en tatoeëermerk van ’n hartjie op sy arm, het sowat drie maande gelede vir hulp gevra by Hope Corner, maar het nooit teruggekom nie.
Ayesha Snyman, wat aan die stuur van Hope Corner staan, het Maandag gaan kyk of sy nie die hawelose man ken, wie se oorskot Saterdag laatmiddag in die bosse by die Tarries Fietsrybaan gekry is nie.
“Daar is deur die jare 823 mense deur ons hande by die sentrum en het ek gedink dat ek hom moontlik sal ken.”
Sy en De Lange Badenhorst, wat self al vyf jaar en ses maande dwelmvry is en by die Hope Corner Sentrum werk, is na die forensiese kantore om die man te gaan uitken.
Ayesha sê sy het dadelik die man aan die hartjie-tatoeëermerk en die snye op sy arm uitgeken.
“Hy was sowat twee maande gelede na ’n kerkdiens by my. Hy het gesê sy naam is Kobus en hy het hulp nodig vir alkoholverslawing. Hy het ook genoem dat hy by geleentheid soms heroïne gebruik.”
Ayesha het vir hom gevra of hy ’n borg het wat vir sy verblyf sal kan betaal en het hy gesê daar is niemand nie.
Sy het egter aangebied dat hy daardie Maandag in elk geval moet inkom, dan kan hy kom stort en sal hulle vir hom kos gee. Hy het egter nooit teruggekom nie.
Tydens hul gesprek daardie Sondag, het sy die hartjie op sy arm gesien, maar ook snymerke opgemerk.
“Hy het erken hy sny homself en dat hy selfmoordneigings het. Hy het ook genoem dat hy twee dogters het, maar dat hulle al baie lank nie kontak het nie.”
Sy onthou dat hy “van een of ander baai by die see af gekom het. Iets soos Jeffreysbaai, Gansbaai of Plettenbergbaai. Ek kan nie presies onthou nie.”
• Ayesha sê die oorledene, wat sy ouer as 55 skat, was baie vuil, asof hy iewers in roet geval of gelê het. Daar moet gemeld word dat die Tarriesbaan in die laaste week ’n veldbrand gehad het en die veld en bosse oral pikswart gebrand is.
Sy het gesien dat daar aan die regterkant van sy gesig bloederigheid was en dat dit ook blou was. “So asof hy geval het of geslaan is.”
• Lees elders ook van talle ander haweloses wie se families hierdie week paniekerig inligting kom vra het, omdat hulle bang was dit is een van hulle. Daar is ook berigte in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer.
