News

Hulp gevra vir begrafniskostes na Elandspruitboer weens brandwonde sterf

Sakkie van der Walt (68), die Elandspruit boer wat op 3 Augustus ’n veldbrand vasgekeer was, is Sondag in die Life Midmed Hospitaal weens nagevolge van ernstige brandwonde oorlede.

Volgens Chané Heroldt (Sakkie se stiefdogter), was hy sedert sy opname in Life Midmed Hospital op lewensondersteunende masjiene geplaas.

“Die hospitaal het my ma, Leatitia, Saterdagaand gebel om te sê dit gaan nie goed nie. Sy niere het ingegee en hulle het die dialise gestop. Hy is om 01:16 Sondagoggend oorlede.”

Volgens Chané was Sakkie nadat hy teater toe was, op die masjiene gesit, en dat sy niere weens ’n hoë infeksietelling ingegee het. Sakkie was ook ’n diabeet.
Hy is na die brand in Wolwekrans Hospitaal (Impungwe) opgeneem waar hy minstens 13 dae gelê het voor sy oorplasing na Life Midmed.

“Ons het raad gekry van ’n privaatpraktisyn dat hy na ’n brandeenheid oorgeplaas moes word, maar die dokters by Impungwe het gesê dis nie nodig nie. Hy moes geskrop word en geïsoleer word.”

Chané sê as dit nie vir die beweerde “nalatigheid” van die dokters by Impungwe hospitaal was nie, sou haar stiefpa nog gelewe het.

“Die dokters by Life Midmed het alles in hulle vermoë gedoen om hom te behandel en aan die lewe te hou, maar sy infeksietelling was só hoog dat sy niere opgepak het.”

Sakkie en Leatitia met hulle familie.

Volgens Chané was hy agt jaar deel van hulle lewe, waarvan hy vyf jaar met Leatitia getroud was.

“Hy was ’n wonderlike man vir ons ma, en ’n wonderlike pa en oupa. Die Elandspruit gemeenskap was ook baie lief vir hom gewees.”

Hoewel daar Vrydag ’n gedenkdiens vir Sakkie gehou word, kan begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer word nie, omdat Sakkie se begrafnispolis verval het.
Die mediesekostes tydens sy hospitalisasie beloop ook byna R1miljoen.

Indien iemand graag wil bydraes lewer tot die mediese rekening, kan die volgende BackABuddy skakel besoek word: https://www.backabuddy.co.za/campaign/sakkie-van-der-walt-burn-victim-survivor

Diegene wat graag wil bydra tot Sakkie se roudiens kan Leatitia kontak op 071 254 6152.

’n Gedenkdiens sal Vrydag om 14:00 by Delamore in eMalahleni plaasvind.

• Sakkie word oorleef deur sy vrou Leatitia, dogter, stiefkinders en kleinkinders.

• Daar is ’n navraag gestuur aan die gesondheidsdepartement rakende die bewering van nalatigheid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button