News

R2 miljard dwelmfabriek: geen borg!

Ná amper agt weke, is die borgtogaansoek in die R2 miljard dwelmfabrieksaak, nie toegestaan nie.

Die vyf beskuldigdes in die dwelmfabrieksaak het vandag weer in die Groblersdal-landdroshof verskyn, waarop uitspraak gelewer is deur die landdros, Bogi Mashele.

Die vyf mans is gearresteer nadat ’n dwelmlaboratorium op 19 Julie op ’n plaas buite Groblersdal deur die Valke oop gevlek is.

Lees meer hier: R2 miljard dwelmfabriek: hoofargumente aangehoor vir borgverhoor

Die borgverhoor van Roelof Frederik Botha (57), die plaaseienaar van Thaba E Monate en Simphiwe Melvin Khumalo (34), het vandag voortgegaan.

Hulle het saam met drie Meksikaanse burgers in die Groblersdal landdroshof verskyn.

Die Meksikaners, Alejandro Gutierrez Lopez (43), Jorge Humberzo Gonzalez (53) en Ruben Vidal Rodriguez (44) het voorlopig hul aansoeke om borg laat vaar.

Landdros Mashele het gesê dat deur die getuienis wat in die hof ontvang is, is dit duidelik dat die staat ’n relatief sterk saak het, en nie ’n swak saak soos deur die verdediging aangevoer word nie.

“Die staat het ook aangedui dat daar ’n moontlikheid kan wees dat die applikante in hierdie saak dalk nie die hof sou bywoon as hulle borg sou kry nie, en die hof stem daarmee saam.

Deur bewyse wat in die hof deur middel van proforma-fakture gelewer is, is daar geen aanduiding van ontvangs, betalings of aflewerings ontvang vir die goed wat gefaktureer is nie, dit is egter duidelik dat die applikante mekaar ken aangesien die naam van Gonzalez op die een proforma-faktuur is wat op Khumalo se foon gevind is.

Baie vrae word dus nie deur die applikante uitgeklaar nie, en daarom besluit die hof dat dit nie in die beste belang van geregtigheid is dat die applikante op borg vrygelaat word nie.

Hul aansoek is geweier,” het landdros Mashele gesê.

Die saak is tot 8 November uitgestel vir verdere ondersoek.

• Botha en Khumalo kan egter na die hoërhof wend om vir borgtog te appelleer. Daar is egter nog nie bevestig of hul dit gaan oorweeg nie.
• Die vyf beskuldigdes staan tereg op klagtes van die vervaardig van onwettige dwelmmiddels, handeldryf in die middels, of alternatiewelik die besit daarvan, asook geldwassery. Die staat voer aan dat hulle die beweerde misdade met ’n gemeenskaplike doel gepleeg het.
• Omdat die dwelms ’n geskatte waarde van meer as R1 miljard het, maak die klagtes deel uit van ’n skedule vyf oortreding, en staan die staat dus hul borgaansoeke teen.
• Al vyf beskuldigdes bly in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button