Sampie se onblusbare gees was ’n bron van vreugde vir almal
Sampie was altyd beskikbaar vir almal.
Die welbekende oud-inwoner van Middelburg, Sampie van Staden (73) is Donderdag in die Steve Biko Hospitaal oorlede.
Die Van Staden familie en sy vriende, het dié huldeblyk oor Sampie geskryf:
“Op ’n rustige Donderdagoggend, 12 September 2024, om presies 08:40 het Sampie van Staden die wêreld op sy eie manier gegroet – stil en kalm, maar met ’n onmiskenbare nalatenskap van spoed, krag, en ’n hart van goud.
Hy het sy laaste dae in die onkologie-afdeling van die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria deurgebring, waar hy met moed teen Akute Myeloïde Leukemie (AML) geveg het, die aggressiewe bloedkanker wat sy lewe uiteindelik geëis het. Maar soos met alles in sy lewe, het hy hierdie stryd met waardigheid aangepak.
Sampie se reis met kanker het in Desember 2022 by die Sandton Mediclinic begin, waar hy met veelvuldige myeloom gediagnoseer is.Vir die eerste jaar het hy hard geveg, maar in die laaste ses maande het sy toestand versleg, en sy kanker het na die dodelike AML getransformeer.
Maar laat ons nie net oor sy siekte praat nie – Sampie was soveel meer as net sy stryd teen kanker.
Hy het grootgeword in Clewer, naby eMalahleni, en het sy kinderjare deurgebring deur sy skoolloopbaan te voltooi in Laerskool Clewer en Hoërskool Hertzog op eMalahleni. Daarna het die gesin na Middelburg verhuis, waar hy sy hoërskooljare voltooi het en later diensplig gedoen het in die weermag op Middelburg.
Op 2 Maart 1974 is Sampie getroud met wyle Magda van Staden, sy lewensmaat en groot liefde. Magda is op 27 Januarie 2017 oorlede, en hul liefde het vir altyd ’n groot invloed op Sampie se lewe gehad.
In 1975 het hy sy eie onderneming, Sunroof Centre, begin, maar sy ware roeping was altyd êrens in die spoed van enjins.
Sampie begin in 1980 met S&J Engineering en het werk vir al die myne rondom Middelburg gedoen. Sy werk daar het hom diep bevrediging gegee, aangesien hy die tegniese uitdagings van die mynboubedryf met toewyding aangepak het.
Dit was egter in 1994 toe Sampie sy passie met mense gedeel het deur sy bekende insleepdiens, S&J Insleepdiens, te begin.
Daar is min dinge wat hom meer genot gegee het as om mense te help, en natuurlik, om die kragtige enjins te bestuur – “wettiglik,” soos hy graag sou sê.
Sampie het sy liefde vir spoed nie net op die pad uitgeleef nie, maar ook op die Hotrod-baan.
In 1980 het hy sy eerste Hotrod-baan naby Tommy’s Restaurant in eMalahleni gebou – lank voordat daar enige sprake van die KG Mall was.
Sy tweede baan het later langs die Middelburg-vliegveld ontstaan. Daar het Sampie groot hoogtes bereik in die motorsportwêreld en ’n indrukwekkende versameling trofeë en medaljes verower vir sy oorwinnings.
In 1983 was Sampie en een van sy beste en langste vriende, Gys Pretorius, die eienaars van Street Rods. Elke jaar oor Kersfees het hulle hul motors gebruik om as Kersvaders, lekkers uit te deel aan minderbevoorregte kinders.
Hierdie aksies het sy liefde en sy groot hart vir mense gekombineer, wat hom soveel vreugde gebring het.
Sampie was die tipe mens wat altyd beskikbaar was – maak nie saak hoe laat of waarvoor nie. Hy was altyd reg vir ‘n kuier, en nooit het hy die titel van “bok vir sports” gemis nie.
Daar was soveel lag en vreugde in sy teenwoordigheid dat ons soms vir dae lank kon lag oor die dinge wat hy aangevang het.
Die lewe met hom was vol grappies, skaterlag, en onvergeetlike oomblikke.
Hy kon vir ure saam met sy geliefde kleindogter, Dakota, en haar studentemaats sit en kuier – geen behandeling of siekte het hom daarvan weerhou nie. Selfs tydens chemo sou hy ’n shooterjie saam met hulle geniet en dan nog die energie hê om almal veilig huis toe te vat.
Sy onblusbare gees en liefde vir kuier was ’n blywende bron van vreugde vir almal wat hom geken het.
• Die familie beplan om oor twee weke ’n roudiens in Middelburg te hou. Dit sal later bekend gemaak word.