Fietsryer kry duur fiets terug, verdagte gearresteer
’n Verdagte is gearresteer en het ’n fietsryer sy fiets teruggekry wat by sy huis in Kanonkop gesteel is.
Al is sy fiets heeltemal uitmekaargehaal, is James Faber dankbaar dat hy die fiets teruggekry het en weer aanmekaar kon sit.
“Ek moes net nuwe pedale weer kry en die agterwiel, wat ’n reuse gat ingehad het, vervang.”
James het nie gedink dat hy ooit weer sy unieke Giant Anthem bergfiets, ter waarde van R45 000, sou sien nadat dit verlede Maandag by sy huis in Kanonkop gesteel is nie.
Hoopvol dat iemand tóg die fiets, wat enig in sy soort is weens die veranderinge wat hy aan hom aangebring het, iewers sal raaksien, het hy die Middelburg Observer daarvan vertel. Hy het ook ’n R1 000 beloning aangebied vir enige inligting wat sou help om die fiets terug te kry.
Daar is ’n artikel daaroor op ons webtuiste geskryf en was aangenaam verras toe die Mhluzi Polisie ons skakel en vra vir James se besonderhede, omdat hulle sy fiets opgespoor het.
James vertel dat ’n fietsryer van Mhluzi die plasing op ons webtuiste gesien het en dadelik die polisie gekontak het.
Hy het later vir James gesê dat hy gesien het iemand ry met die fiets rond en besluit het om te help.
James het hom van harte bedank en ook die beloning vir hom gegee.
Die fietsryer het gemeld dat hy dit met graagte doen, want dit kon hom ook oorgekom het.
• Die fietsryer se naam word weerhou, om moontlike intimidasie te voorkom. Hy is egter die Observer se inwoner van die week en is welkom om ’n R250 eetbewys van Hobo’s Cafe by die koerant se redaksiekantoor te kom afhaal.
• Manqoba Mashiloane het hierdie week in die hof verskyn op ’n klagte van besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Borg van R500 is toegestaan en is die saak uitgestel na ’n latere datum vir verdere ondersoek.

