Man wat uit op borg is, weer gearresteer
Met die flinke werk van reaksie-offisiere van Mid Alarms is ’n verdagte, wat tans uit is op borg, weer gearresteer.
Johan Oberholzer, operasionele bestuurder, Mid Alarms, sê hul reaksielede is Maandag om 05:00 na ’n huis in Kogelstraat waar ’n alarm afgegaan het.
Hulle het dadelik met hul aankoms opgemerk dat die veiligheidshek en deur oopforseer is en dat die verdagte in die kombuis doenig was.
Die verdagte, wat as Doctor Nicolas Mokoena geïdentifiseer is, het die huis in gevlug toe hy die reaksie-offisiere sien, maar hulle het hom kort daarna in ’n kamer vasgetrek.
Volgens Oberholzer is Mokoena in Augustus ook gearresteer nadat hy by ’n huis in Dennesig betrap is.
Hy is aangekla vir betreding en vrygelaat op R500 borg.
“Mokoena is verhoorafwagtend in verband met die vorige saak, en ons wil daarom borg teenstaan. Ek wil ook weet waar ’n hawelose R500 kry vir borg, wat vir my sê hy werk vir iemand.”
Doctor Nicolas Mokoena (28) Dinsdag in die hof verskyn op ’n huisbraakklagte.
Misdaad het in die laaste vier maande erg toegeneem
“Ons het twee maande gelede seker die ergste golf misdaad beleef wat ons in ’n lang tyd gesien het, en sit tans met 180 sake wat in die laaste vier maande alleen aangemeld is. Dit sluit net Mid Alarms se sake in.”
Oberholzer het inwoners gewaarsku om sake deur te sien sodat verdagtes wat herhaaldelik gearresteer word, vervolg kan word.
“Mense is vinnig om te kla oor die polisie of die regstelsel, maar klaers het ook ’n verantwoordelikheid om voort te gaan met misdaadsake. Dit gebeur gereeld dat slagoffers sake oopmaak en dan weer terugtrek sodra dit in die hof beland.
“Mens verstaan die frustrasie om tyd van die werk af te neem om ’n hofsaak by te woon net vir dit om uitgestel te word, maar ons ondersoekbeamptes raak net so gefrustreerd wanneer hulle al die werk doen, net vir misdadigers om weer op die straat te beland.”
Moenie ’n slagoffer word nie
In die lig van die skielike toename in misdrywe, veral met die feesseisoen wat nader kom, het Oberholzer die volgende wenke met inwoners gedeel:
• Sorg dat jou besittings veilig toegesluit word. Baie misdadigers is opportuniste, en inwoners wat gereedskap buite laat rondlê, gee hulle die geleentheid om oor die muur te spring en dit te gryp.
• Hou kantgordyne toe en moet nie jou waardevolle besittings adverteer nie.
• Beveilig jou eiendom en perseel.
• Sluit aan by jou buurtwag of straatgroep, hulle maak werklik ’n verskil.
Nie Mokoena se eerste arrestasie nie
• Die Middelburg Observer het in Januarie berig oor Mokoena, wat by ’n huis in Industriastraat betrap is. Hy en ’n tweede verdagte is deur bure betrap nadat daar by ’n buitekamer ingebreek is. Die tweede verdagte het gevlug en het Mokoena ’n mes as afskrikmiddel gebruik teen die bure wat hom in die buitekamer vasgekeer het.
Hy is gearresteer en het in die hof verskyn.
