News

Jong ma se angs na rower haar op bed neergooi, vasbind

’n Vrou is deur ’n rower in haar kamer rondgegooi en vasgebind, terwyl haar twee seuntjies in hul eie kamer gelê en slaap het.

Toreen van Staden (32) sukkel nou nog om die trauma te verwerk nadat ’n man haar Woensdagoggend in hul huis in Kanonkop oorrompel het.

Sy en haar twee seuntjies van 8 en 4, was alleen tuis toe die man om 03:00 die voordeur oopforseer het.

Toreen het verduidelik dat hulle voordeur nie kon sluit nie, en dat hulle dit met ’n stok beveilig het. Sy het wakker geword toe die deur oopgaan en die stok val.

“My man het nagskof gewerk, en ek het gedink dis hy wat ingekom het. Ek het na hom geroep toe die man skielik in my kamer ingekom het. Hy het my op my bed neergegooi en my met ’n elektriese kabel vasgebind. Hy het my gedreig en gesê ek moet stilbly.”

Toreen het in haar kamer agtergebly en die verdagte is weer terug kombuis toe waar hy die twee seuns se selfone, brood en melk gesteel het.

“Ek het in my kamer gebly omdat ek gevrees het hy sal my seer maak, maar toe ek hoor dit is stil, het ek dadelik na my seuns se kamer toe.”

Toreen se eie selfoon was gelukkig onder haar kussing, en sy het daarmee die beheerkamer van Titon Sekuriteit gebel, waar beide sy en haar man Jan, werksaam is.

“Daar was binne twee minute drie reaksievoertuie by ons, maar die rower was reeds weg.”

Beide Toreen en Jan is oortuig dat die man ’n hawelose of dwelmslaaf is.

Sy het hom beskryf as ’n medium geboude man, wat sowat 1.8 meter lank is, met netjiese donker hare. Hy het swart gedra en ’n kortmou hemp.

“Ek wil graag almal van Titon Sekuriteit bedank, Hans en Nicolene du Preez, Kerry-Lee en haar ma. Hulle het almal dadelik reageer en het my probeer kalmeer en bygestaan,” het Toreen afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button