Scrooby ontken mishandeling van bejaardes na bedrog-vonnis
Dit gons aan die Suidkus oor “Sassa-shelter”
Aletta Susanna “Kathy” Scrooby wat skuldig bevind is aan bedrog, is wéér onder die soeklig.
Scrooby is in September verlede jaar skuldig bevind aan bedrog en gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar.
Daar is bewerings dat sy daklose staatspensioenarisse se Sassa-toelaes vat en vir haarself en haar gesin aanwend.
Sy bedryf nou ’n sorghuis vir bejaardes in Hibberdene, en sy plaas gereeld fotos van die kos wat sy aan die bejaardes voorsit op haar WhatsApp profiel saam gebede en versoeke van donasies uit die gemeenskap.
IRS Forensic Investigations het Maandag, 14 Oktober, by Scrooby se huis aangeklop, waar verskeie bejaardes wat bloot Sassa-pensioene ontvang, deur Scrooby en haar man ingeneem is.
Volgens IRS se Chad Thomas fokus die ondersoek tans rondom finansiële misbruik van die bejaardes. Die ondersoek poog ook om te bewys hoe Scrooby die eiendom waaruit die sorghuis bedryf word, bekom het met haar skuldigbevinding vir bedrog wat in Middelburg gepleeg is.
Scrooby het haarself voorgedoen as eienaar van Phakamisa Logistics, wat verskeie kontrakte met myne in die area gehad het om trokke te voorsien.
Sy het later aangedring op die lewering van 10 trokke en vervalste bankstate van die betaling van R1.7 miljoen aan Scania verskaf, maar is sy by Scania ingewag en gearresteer deur die Valke.
Vervoerprobleme en kastige siektes het gereeld tot die uitstel van die bedrogsaak teen haar in die handelshof gelei, waar sy verlede jaar skuldig gepleit, en gevonnis is op die klagtes teen haar.
Gedurende dieselfde tydperk het sy ook belowe om ’n reuse skenking aan ’n minderjarige kankerleier in Middelburg te maak, maar geen geld is ooit aan die kankerleier se fonds vir behandeling oorsee inbetaal nie.
Tydens Thomas se besoek aan Scrooby was haar man, kinders, ’n “onafhanklike getuie” en joernalis ook teenwoordig.
Tydens haar hofsaak het Scrooby vergeefs probeer om ’n beskermingsbevel teen IRS te kry, wat later deur die hof uitgegooi is. Sy het beweer Thomas treiter haar op sosiale media met inligting oor die ondersoek.
Johnson het egter nie opgehou om Scrooby onder sy vergrootglas te hou nie, juis weens klagtes oor die behandeling van die bejaardes in haar sorg.
Scrooby skroom ook nie om Facebookprofiele onder verskeie skuilname oop te maak om te bedel vir geld en donasies nie.
Tydens die vergadering by haar huis, het sy gesê dat die fokus is op Sassa-pensioentrekkers om ’n heenkome en maaltye te verseker.
Thomas maak dit in sy Facebookplasing na die besoek duidelik dat hy die sorghuis in sy persoonlike hoedanigheid ondersoek, en nie namens IRS nie, na ’n string klagtes oor die huis op sosiale media die afgelope vyf jaar.
Van die klagtes is dat Scrooby die pensioenarisse se pensioene vat, en hulle laat staatmaak op donasies terwyl sy en haar gesin die geld uitleef.
Scrooby het egter erken dat die bestaande “besigheidsmodel” nie volhoubaar is nie, en tans eksklusief befonds word deur die inwoners se staatspensioene.
Inwoners van die sorghuis was ook teenwoordig en het geen klagtes gehad nie.
Die saak is nou in die hande van maatskaplike ontwikkeling sê Thomas, wat bylas dat klagtes ook daarop dui dat Scrooby “nie huur of munisipale dienste op die eiendom betaal nie.”
Bewerings sluit ook in dat Scrooby mediese behandeling toepas in die afwesigheid van gekwalifiseerde mediese sorg vir die bejaardes.
Daar word verder beweer dat “lenings gereeld by familielede van die bejaardes gemaak word,” en dat Scrooby bates van die inwoners verkoop om minstens drie maaltye ’n dag aan almal te kan voorsien.
Thomas se plasing het verskeie gelaaide kommentare ontlok, met een vrou wat sê sy bevraagteken nou die omstandighede van haar ouma se dood in Scrooby se sorg.
• Die Natalse departement van maatskaplike ontwikkeling het nie voor druktyd op versoeke vir kommentaar gereageer nie.
• Scrooby ontken dat bejaardes in haar sorg mishandel word, en plaas die blaam vir Golden Oldies sorghuis se negatiewe publisiteit op vorige inwoners, wat beweer hulle is op straat uitgesit.
Sy sê sy het reëlings met die huiseienaar in plek om maandeliks te betaal wat sy kan op die eiendom en dienste.
Sy erken sy maak staat op skenkings, en sê dat die huidige tien bejaarde inwoners elk R1 600 moet betaal vir drie maaltye per dag en behuising.
Scrooby nooi mense om na haar Golden Oldies Sassa Shelter se Facebook blad te gaan kyk na watse dienste sy die bejaardes bied.
Op van die videos kan gesien word watse prosies aan bejaardes voorgesit word.
Bejaardes in haar sorg wat by die vergadering was, het ook ontken dat hulle mishandel word.
