Katte vrek op strepe by ouetehuis, Rivierpark
’n Diereliefhebber wat ontsteld is oor ’n string vrektes onder rondloper katte by die Rivierpark en SAVF oorde vir bejaardes, beweer dat gif gestrooi word.
Nadat ’n klaer die Middelburg Observer gekontak het om te laat weet dat 21 katte tot dusver gevrek het, met 10 katte in die laaste maand, het die ondervoorsitter by Rivierpark egter gesê daar is geen bewyse dat die katte wel vergiftig word nie.
Volgens mnr Chris Klopper, Rivierpark se ondervoorsitter, is hy bewus van ongeveer agt vrektes in die laaste twee of drie maande.
Meeste van die katte is volgens mnr. Klopper rondloper katte, maar een Rivierpark inwoner se troetelkat is hierdie week dood gevind.
“Omtrent 4 dooie katte is by die SAVF gevind, en vier by Rivierpark. So ’n maand en ’n half terug is daar so paar dooie katte gevind, maar in hierdie week alleen drie katkarkasse,” sê Klopper.
Volgens mnr. Klopper is dit vreemd dat die katte op strepe vrek, maar hy las by dat daar geen bewyse is dat iemand hulle vergiftig het nie.

“Niemand kan sê of die katte iets in die veld gevreet het, en of iemand dalk rotgif uitsit en die katte dalk die dooie rotte eet nie.”
Hy sê dat party inwoners kla oor die katte, terwyl ander hulle voer.
Die aantal dooie katte dui egter op ’n wesenlike probleem van rondloper diere in die area.
“Dis nie reg dat katte vergiftig word nie, maar inwoners was herhaaldelik gevra om op te hou kos uitsit vir hulle,” sê Klopper.
• Volgens Brenda Ferreira, administrateur by die Middelburg DBV, kan die DBV niks doen sonder bewys dat die katte vergiftig is, en deur wie nie.
“As iemand video materiaal of foto’s het van die persoon met die gif in hulle hande, of hoe hulle die gif strooi, kan dit aan ons voorsien word.
Daar sal ook ’n veearts verslag ingewin moet word deur die klaer wat sal bepaal of die dier wel vergiftig is, sê Ferreira.
• Feral Care Friends wat omsien na wilde katte is bewus van die katte in die area.
Daar word wel pogings aangewend om die populasie te verminder, deur rondloper en wilde katte te laat regmaak.
