Middies pak Waterkloof eerste keer in geskiedenis in semi’s!
Middies se krieketspan was die afgelope twee weke op die wenpad, maar nou lê die tweede gekeurde Waterkloof in die semi's voor die deur!
Gaan Hoërskool Middelburg se eerste krieketspan die geskiedenisboeke herskryf deur Waterkloof Saterdag te wen?
Middies het die naweek al klaar geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer vir Hoërskool Kempton Park te klop in die kwartfinaal van die Fain Noordvaal reeks, voorheen bekend as die administrateursbeker.
Reeds in die uitspeelrondte het hulle almal laat regop sit toe hulle Hoërskool Nelspruit met vyf paaltjies geklop het!
Die kwartfinaal was ‘n uitdagende wedstryd na ‘n goeie boulvertoning deur Kempton Park wat die hele span van MHS laat kantel het met slegs 130 lopies.
Die Groenes kom egter gedetermineerd terug. Gavin Genis (wat ‘n droomseisoen beleef), vat vyf paaltjies en saam met Hendré Nel se vier paaltjies boul hulle Kempton Park uit vir slegs 107 lopies, om die wedstryd met 23 lopies te wen!
Afrigter Shaun Neethling vertel dat MHS in 1951 die administrateursbeker gewen het. Daarna het hulle in 1965 weer in die finaal gespeel teen Potchefstroom Volkskool. Ockert Nel, wat later hoof geword het van Hoërskool Middelburg, was deel van die span!
Neethling noem dat Middies se eerstes tans 33ste op die Suid-Afrikaanse Skoleranglys lê en dat Hoërskool Waterkloof tweede op dié ranglys pryk. “Ek dink die vraag op almal se lippe is, ‘sal Middies vir Waterkloof kan wen?”
Neethling glo egter in sy span en is hulle slaggereed vir die wedstryd wat voorlê.
Middelburgers word uitgenooi om die span te gaan ondersteun. Die wedstryd begin 09:00.
