News

Twee honde dood na huurders mekaar takel in Kanonkop

Pittie en poedel se sterftes deur veearts ondersoek

Dit gons in Kanonkop nadat twee honde dood is in ’n onderonsie tussen huurders in Maroelastraat Vrydag.

Huurders, ’n man en sy swanger vrou, woon in die huis, waar hulle ’n woonstel sedert Maart aan ’n daklose man onderverhuur.

Die paartjie is Vrydag dokter toe en sou daarna by hul skoonouers gaan kuier.

Hulle moes egter gou iets tuis gaan optel en toe hulle by die huis stop, het hulle gesien die veiligheidshek is oopgebreek, en die voordeur oopgeskop.

Die afgeskopte deur van die huis.

Met die intrapslag in die huis, het hulle die woonstelhuurder in hul sitkamer gewaar.

Daar het ’n onderonsie tussen die twee mans ontstaan met die vrou wat kamer toe gevlug het om haar pa en die polisie te ontbied.

Toe sy buite kom, het sy baie bloed opgemerk, en gesien dat die twee mans steeds handgemeen is.

Gedurende die bakleiery, het die man in die woonstel klaarblyklik sy pit bulterriër, Jock, op die ander man vrygelaat.

Die hond het die man bestorm, gebyt en gekrap.

Krapmerke op die man se rug.

Die man het die hond met sy staalpunt werkskoene geskop, waarna die dier laat gaan het, maar hom weer bestorm het.

Dis toe dat die vrou sien hoe die man in die woonstel ook haar man storm.

Sy sê omdat die huurder nie ’n voertuig het nie, en hy moet loop, hy daagliks ’n mes by hom dra.

Die paartjie vermoed dat die huurder sy eie hond met die mes in die stoeiery bygekom het.

Met die polisie en Dierebeskermingsvereniging se ondersoek van die toneel, kon ’n mes nêrens gevind word nie.

Daar was ook nie duidelike steekmerke aan die hond se karkas nie, en die karkas is later deur ’n veearts ondersoek.

Die vrou sê egter dat toe die hond van die bakleiery af weghardloop, sy gesien het hoe bloed van die dier af drup.

Intussen het die huurder van die woonstel se ander hond, ’n poedel, onder ’n kar wat buite vir die paartjie gewag het, se wiele beland.

Die poedel is later uitgesit nadat die voertuig oor sy rug gery het.

Geen arrestasies is nog gemaak nie, maar die huurder is deur polisielede van die perseel af vergesel.

Die paartjie sê hulle het hom nog nie weer gesien nie.

Volgens die vrou het hulle die huurder al verskeie maal betrap waar hy dwelms gebruik het.

Hulle het hom juis op versoek van ander familievriende ingeneem om hom te help om van die straat af te kom en dwelms te los.

Almal se identiteite is aan die Middelburg Observer bekend, maar kan nie bekendgemaak word voor daar amptelike kriminele klagtes gelê word nie.

Die paartjie het intussen ’n klag van inbraak teen die voormalige huurder gelê.

Die vrou sê die huurder het heeltyd “jammer, jammer” geprewel toe hy in die huis betrap is.

• Die vermoede is dat die huurder nou in ’n vervalle huis in Proteastraat saam ander dakloses woon.

Die area om die betrokke huis loop al weke deur onder diefstalle van watermeters en ander artikels, wat maklik weggedra kan word.

Die polisie is bewus van die huis en patrollies deur veiligheidsgroepe soos die Dagpatrollie, word gereeld daar gedoen.

• Daar word nog op die finale veeartsverslag gewag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Matt Handley

Matthew Handley has been working as a journalist and photographer at the Middelburg Observer since December 2022. Matthew was honoured with the Alet Roux Award for Best Young Journalist by the FCJ in 2023. As a community journalist, Matthew covers a diverse variety of topics, with an unwavering adoration for Middelburg.
Back to top button