News

Dennesig water vir hoeveelste keer af

Alles behalwe geisers of ketels is aan die kook in Dennesig nadat inwoners vir die hoeveelste keer met droë krane wakker geword het.

Altus Marx, het gesê dat sy wasmasjien al sedert Vrydag vol vuil wasgoed staan, omdat inwoners die hele naweek sonder water gelaat is. Volgens Marx, gaan dit egter al vir drie weke so.

“Die waterprobleme het drie weke gelede begin, en toe is ’n klep aan een van die pype herstel. Dit het egter nie die probleem opgelos nie, en toe vervang die munisipaliteit ’n klep aan die hooflyn. Daarna was daar minstens twee pypbarste in Piet Groblerlaan, en elke keer sit inwoners vir dae sonder water!”

Marx het vertel dat inwoners “gatvol” raak en dat hulle selde volledige terugvoer van die munisipaliteit ontvang.
“Al wat mens hoor is dat hulle sal kyk daarna, en dan hoor mens weer niks.”

Hy het bygevoeg dat inwoners ’n gemeenskapsvergadering moet reël, maar dat hulle nog geen terugvoer van die burgermeester of direkteur van waterwese ontvang het na die versoek nie.

DA raadslid, Helda de Klerk het die herhaaldelike onderbrekings bevestig, maar sê egter dat waterwese behulpsaam en spoedig is om te reageer.
“Die nuwe PVC pype is al jare terug gelê maar nog nie gekoppel nie, en die woonbuurt maak nog staat op die ou asbespype.”

Volgens De Klerk is die mees onlangse onderbrekings as gevolg van ’n pyp in Piet Groblerlaan wat gebars het.
Sy het ook verduidelik dat Piet Groblerlaan, wat aan die verste kant van Dennesig geleë is, veroorsaak dat Dennesig se waternetwerk leegtap en dit baie langer neem vir die netwerk om weer vol te kom.

“Ek het Vrydagaand al klagtes ontvang oor lae waterdruk, maar van Saterdag af was die water af. Sondagaand was die water vir ’n rukkie terug, maar vanoggend het die pyp weer gebars.”

Sy het wel getroos dat die direkteur van die waterdepartement belowe het om dringend met die oorskakeling van asbes na PVC te begin.

De Klerk het ook vanoggend ’n versoek aan STLM gerig om waterkarre beskikbaar te stel, “ek is bewus dat daar ’n probleem is met die karre, omdat hulle reeds in Somaphepha en Doornkop gebruik word. Daarom het ek die inisiatief geneem dat inwoners water kan gaan haal by inwoners met boorgate.”

Die nuutste inligting is dat die pypbars herstel is en dat watertoevoer stelselmatig besig is om terug te kom.

Indien daar inwoners is wat water nodig het, kan hulle by die adresse wat op die Kanonkop en Dennesig Wyksprobleme WhatsApp-groep aangedui is, gaan aanklop.

“Ek verstaan die frustrasie, maar raadslede het geen mag om opdragte aan munisipale amptenare of departemente te gee nie. Ons rol is om inwoners by te staan en ons doen ons bes om hierdie probleme so gou moontlik aan te meld. Om ons te vloek of te beledig maak die situasie net ongemaklik,” het De Klerk afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button