Raakvat Miemie na kort siekbed oorlede
Miemie Stoltz (73) die raakvat vrou met die sagte omgeehart wat alles vir haar kinders en kleinkinders sou doen, is verlede Dinsdag na ’n kort siekbed in die Middelburg Hospitaal oorlede.
Haar seun, Dries, sê hy het haar op 25 Oktober hospitaal toe geneem, omdat sy baie swak was.
“Sy het Saterdag vir die laaste keer met ons gepraat en is Dinsdag tydens besoektyd oorlede.”
Me. Stoltz was welbekend in Middelburg en was vroeër jare haar man, Gawie, se regterhand by hul besigheid, Trekker Velddienste. Hy is in 2008 oorlede.
Die vroue van die Vrouelandbou Unie (VLU) onthou haar as ’n een van hul raakvat lede, wat lank voorsitter was by Lenata VLU en ook getrou aan kompetisies deelgeneem het.
Haar kinders het haar beskryf as ’n besondere moeder wat baie trots was op haar kleinkinders.
Sy word oorleef deur haar kinders, Dries en Sorina, skoonkinders Roelien en Abrie, kleinkinders Mieke en McKenzi en broer, Andries Goosen.
• Die begrafnis is Woensdag. Almal kom om 11:00 by die graf byeen, waarna daar terugbeweeg sal word na die Presence Church (voorheen Kruisgenerasie) vir die diens.
