Die kommunis, die regses en ’n ANC-vergadering in die dorp se stadsaal.
Die dag toe die kommunis en regses in stadsaal gebots het.
Dit was die vroeë negentigerjare. Voor die eerste demokratiese verkiesing.
Verregse inwoners van Middelburg het by die dorp se sportkompleks by mekaar gekom en ’n klipstapel gepak as simbool dat hulle nooit ’n nuwe bedeling met die ANC in beheer sal aanvaar nie.
Kragopwekkers is aangeskaf, blikkieskos bymekaar gemaak en die munisipaliteit het ’n pamflet by huise afgelewer om inwoners in te lig hoe hulle kan oorleef na Suid-Afrika se donker ondergang.
Die noodlys het ingesluit; “vuurwapen moet binne minute gelaai en in jou hand wees”, “sorg dat daar genoeg brandstof in jou voertuig is”, “hou jou motorsleutels op ’n plek waar jy dit vinnig in die donker kan vat”.
Inwoners is gewaarsku “winkels sal hul deure moet sluit as gevolg van geweld” en “’n totale instorting van dienste word verwag”. Daar is aanbeveel dat Middelburgers hulle bankrekeninge leeg trek en die kontant versteek.
Dit was duidelik dat die Konserwatiewe Party-beheerde stadsraad verwag het dit sal maar druk gaan, want inwoners is ook ingelig om medikasie vir hardlywigheid aan te skaf.
Maar al is daar donker tye voorspel het die stadsvaders nie ’n plesiertjie of twee vergeet nie. In die voorraadlys is voorbehoedpille ook aanbeveel.
Teen hierdie agtergrond het die ANC aansoek gedoen om in die dorp se stadsaal te vergader, die eerste van sy soort.
Daar waar nuwejaar verwelkom is met boeremusiek en langarm danse, wou die “kommuniste” vergadering hou.
En die ANC stuur nogal die “bose kommunis” Tito Mboweni om die hoofspreker te wees. Op daardie “heilige grond” sou geen kommunis sy voete sit nie!
Die Saterdagoggend het jong onluste polisiemanne die strate om die stadsaal afgeblok. Aan die een kant agter doringdraad was die polisiemanne in kamoefleerdag en aan die anderkant die ANC.
’n Paar ANC belhamels het op die stadsaal se dak geklim.
Daar was elektrisiteit in die lug. Dit was amper soos voor die afskop van ’n Boktoets teen die All Blacks.
Binne die stadsaal het ’n klompie ANC-lede in afwagting op Mboweni se verskyning gewag.
Die stasiebevelvoerder, kaptein Jan Cloete, het sy hande vol gehad om die regses in khaki te kalmeer – “hier praat geen ANC vandag nie”. Ironies is Cloete ook Jan Blaf genoem omdat hy voorheen by die honde-eenheid gewerk het.
Toe Mboweni verskyn, het regses onder leiding van Flip Botha die verhoog bestorm. Cloete het gekeer en die latere burgemeester van Middelburg, Tsietsi Tolo, het mooi gepraat.
Botha en Mboweni het in ’n woordewisseling betrokke geraak en hulle vingers in mekaar se gesigte geswaai. Daar was chaos.
Tog word Mboweni die eerste “swart” en eerste ANC wat in die stadsaal praat.
Botha sterf op jong ouderdom aan kanker, Tolo in Februaie 2021 weens Covid-19, Mboweni (65) voorverlede week in die hospitaal.
Hy sou later ook die eerste “swart” president van die Reserwebank word en die minister van finansies.
Die klipstapel is weg. Soos die stryders voor 1994.
Die Armageddon wat voorspel is het nie gebeur nie.
Simunye – ons is een.
Is ons?
