News

Generaal wag vir Valke se klop aan sy deur

Generaal: ‘ontvang geld, maar verkoop nie siel.’

Nadat Louis Liebenberg, die land se berugte diamant “ponzi-baas” se doppie geklink is met sy arrestasie, tesame met sy vrou Dezi en medebeskuldigdes Magdelena Kleynhans, Johannes Badenhorst, Helena Schulenburg, Adriaan Strydom, Christelle Badenhorst, Nicolize van Heerden en Walter Niendinger, pak die onweerswolke ook nou saam bo die kop van generaal Izak van Zyl, die plaaslike direkteur van die Boerelegioen.

Van Zyl het al op Liebenberg se uitnodiging verlede jaar skouers geskuur met Jacob Zuma se dogter Rejoice, Carl Niehaus en Lindiwe Zulu, tydens ’n swierige affêre by die spoggerige D’Oreale Grande Hotel by Emperors Palace, waar die Waarheid Media ’n gala-aand aangebied het.

Van Zyl het na skerp kritiek geskerm dat hy bloot ’n uitnodiging van ’n vriend (Liebenberg) aanvaar het, en vir foto’s geposeer “om nie ongeskik te wees nie.”

Selfs toe was daar gissings dat Van Zyl finansieel baat vind by Liebenberg se “vriendskap,” maar hy’t ontken dat hulle ‘nagtelank’ by die hotel deur Liebenberg onthaal is, ‘en net een aand daar was’. Die gala is onder andere deur die bekroonde skrywer Jean Oosthuizen as ‘kuier tussen trogvreters,’ beskryf.

Van Zyl het tydens ’n onderhoud oor die herrie erken dat hyself by Liebenberg se diamantskema ingekoop het, maar homself en die Boerelegioen gedistansieer van Liebenberg se noue bande met Jacob Zuma.

Daar is Sondag berig dat Van Zyl se naam in die ondersoek na Liebenberg se ponzi-skema opduik.

Volgens die likwidateur Vaughn Victor wat met Rapport gesels het, blyk dit dat Liebenberg se motiewe om Van Zyl te bevriend, nie suiwer was nie, maar daarop gemik om Van Zyl en Boerelegioen se volgelinge, by die koop van diamantpakkies te betrek.

Van Zyl het kort voor druktyd gesê “ek weet self nie meer wat die waarheid is nie.”

Hy sê Liebenberg het al in die verlede opleidings- en leierskapskampe van die Boerelegioen geborg.
Hy erken verder dat hy R10 000 betaal is vir vierkiesingsveldtogte namens Liebenberg.

Liebenberg het hom ook reis en verblyf, sowel as konsultasiefooie betaal as Van Zyl opgetree het as spreker by geleenthede wat deur Liebenberg gereël is.
Van Zyl ontken dat hy, soos Devon Hofmeyr, ’n maandelikse salaris by Liebenberg as direkteur van sy volksbeweging gekry het.

Hofmeyr het sedert die bom om Liebenberg se kop gebars het, erken dat hy ’n salaris ontvang het as direkteur van Toekomsfront.
Van Zyl sê hy weet dat die Valke hom moontlik ondersoek, maar dat daar nog ’n klop aan sy deur was nie.

Hy erken dat Boerelegioen ‘baie’ volgelinge verloor het weens sy verwantskap aan Liebenberg, maar ontken dat hy lede aangepor het om in te koop by die diamantskema.

“Die een hand het die ander hand gewas,” sê Van Zyl en motiveer die stelling met “my lede het vrywilliglik by die diamantskema ingekoop terwyl Liebenberg se mense weer by ons aangesluit het.”

“My gewete is skoon,” sê Van Zyl, wat self ’n hooggeagte voormalige kolonel in die plaaslike polisie was.

Liebenberg en kie staan tereg op klagtes van rampokkery, bedrog, diefstal en geldwassery.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button