News

Huldeblyke vir dorp se ouma Toet

Huldeblyke stroom steeds in vir Toetie Kruger wat verlede Donderdag na 'n lang siekbed in die Wilgers Hospitaal in Pretoria oorlede is.

Toetie Kruger het almal se harte aangeraak en kan dit gesien word in die magdom briefies wat mense na haar afsterwe gestuur het.

• RIV vriendin, ons kan dit nie beskryf in woorde nie, maar jy laat ons met die mooiste herinneringe agter vir al die jare wat ons mekaar geken het. Lief en mis jou al klaar so baie. Elize en my moedertjie Wally.

• Tannie Toetsie Woorde het ek nie, en ek hou nie van totsiens sê nie. Ons groet tot later. My hart is seer maar ek troos my, want jy is by my mamma en skinder nou lekker. Geraldine en kinders.

• Tannie Toetie, hoe begin ’n mens hierdie briefie, dis bitter moeilik. Ons gaan tannie verskriklik baie mis, al die kuiertjies en al die boodskappies. Tannie moet nou in vrede rus maar tannie sal altyd in ons harte bly. Ons is baie, baie lief vir tannie. Met baie liefde Nooi en Lucy.

• Liewe ouma, al het ek ouma later in ouma se lewe ontmoet, voel ek steeds so gelukkig om deel daarvan te kon wees. Jy het my soveel geleer net deur die manier waarop ouma gelewe het, met jou rustige wysheid en merkwaardige goedheid. Ouma het geweet wanneer om die waarheid te spreek, wanneer om trooswoorde te bied, en wanneer om net te luister. Dit mag dalk na eenvoudige eienskappe klink, maar om dit met die grasie te doen soos ouma dit gedoen het, is ’n rare gawe. Ouma het my gewys dat ’n mens so veel verskillende dinge vir soveel mense kan wees. Ek hoop, voor ouma ons verlaat het, dat ouma die diepe trots en liefde wat ons almal vir ouma het, kon voel. Met al my liefde, “Mullertjie.”

• Hoe sal ek haar onthou? Sy het my geleer, jy behandel jou ‘skoonkinders’ soos jou eie kinders. Daai woord ‘skoon’ het glad nie by haar bestaan nie. Ja ek het die uittrap ook gekry , soos haar eie kinders. Maar dit is wat haar so uniek en regverdig gemaak het. Erika le Roux.

• My Liewe Tannie Toetie, so het God jou kom haal en gaan jy nou rus. Dankie vir die rol wat tannie in my lewe gespeel het. Tannie was my oor en het altyd vir my raad gegee. Ek gaan ons kuiers mis. Die ure in die winkels. Die vinnig koffie drink, en iets lekkers eet. My tannie my hart is stukkend maar ek weet jy is nou tot ruste, en by Corne en my ma. Jou plekkie is leeg. Dankie vir al jou eerlikheid na my ma se afsterwe. Tot ons mekaar weer ontmoet. Sterkte aan al my niggies en neefs, en kleinkinders, mag God julle vertroos in die tyd. Liefde Liwie.

• Tannie Toetie. Ons Vader het sy mooiste blom kom pluk. Die vriendelikste mens, met die mooiste glimlag. Sag rus my tannie. Liefde Nadine.

• Toetie waar begin mens na 40 plus jare se vriendskap? Jy het net voor jy hospitaal toe is, tydens ’n kuiertjie vir my gesê as die Here ons spaar, kom draai jy weer. Rus sag by Jesus se voete vriendin, tot ons mekaar weer sien. Jy word baie gemis. Jy was ’n mens duisend, geliefd in die hele Middelburg! Monica en Japie.

• In liefste herinnering aan my ousus Toetie. Vandag is my hart seer om totsiens te sê, vir jou my liefste suster, my steunpilaar. Ek sal altyd onthou hoe ek vir my ‘n koppie tee maak, of ‘n broodjie smeer met ‘n eiertjie op. Dis wat jy altyd voor gevra het as jy stop vir ‘n vinnige hallo. Jou menswees, liefde, geduld, en die tyd wat jy altyd gemaak het, sal ek baie mis.

Ek onthou ons jonger dae, die saamwees waar ons gesels het tot die son sak. Jou liefde vir ’n ietsie soets, en daardie oproep op my verjaardag wat jy nooit vergeet het nie, sal ek bitterlik mis. Niks kan die pyn ligter maak nie, en dit gaan moeilik wees om al die eerstes te doen, eerste Kersfees, eerste Nuwejaar, eerste verjaardag, eerste Moedersdag. Maar ek het so veel goeie oomblikke wat ek in my hart en gedagtes kan herleef. Ek gaan jou verskriklik mis, my liefste suster. Rus sag en in vrede, en weet ek sal jou altyd koester in my hart. Lief jou baie Cookie.

• Ons liefste Ouma Toetie, waar begin ons om totsiens te sê. Jou deernis, om elke oggende en elke aand ‘n boodskappie te stuur, sal ons baie mis. Daardie oproep om ons en ons kinders geluk te wens met verjaardae, gaan baie moeilik wees om sonder jou te ervaar.
Ek en Cathy het dikwels geweet, deel van daai oproep gaan wees om ‘n koek en ’n ietsie lekker saam my ma te stuur, en ons het dit met die grootste liefde gedoen. Ons het geweet hoe lief ouma was vir ’n soet dingetjie of ietsie lekkers. Daar is so veel mooi gedagtes en spesiale oomblikke wat ons altyd sal koester. Rus sag, ouma Toetie, en wees gerus dat ons altyd ’n stukkie koek sal eet en aan jou sal dink. Jou liefde en warmte sal vir ewig in ons harte bly. Baie liefde Cathy en Patricia.

• Ma. Van jou het ek nou net ’n foto….As ek daaraan dink, het ek nie eers ’n foto nodig nie.. Hoe kan ek jou vergeet? Jou hart klop nog hier binne myne, asof jy vergeet het om dit saam jou te vat. Jannie.

• My ou Moeder. Jy het altyd as ek raad wou hê, of ek huil by jou, vir my gesê: “bly met jou kop op jou knieë my kind”, en vandag is ek op my knieë. Ek verlang na ons koffies en kuiers en lekker gesels oor Hessie se hoender wat ma wakker kraai, of toe ma in Jan van Riebeeckstraat gebly het, en ek saam ma moes ry of stap en dan urelank vashaak. Dankie my ma vir alles. Lief jou, Ronell.

• Liefste Ouma Toetie. My hart is baie seer om te weet ons het ouma verloor. Ouma was regtig my rots wat my altyd ondersteun het, moed ingepraat het, raad oor die lewe gegee het, en my gewys het wat dit vat om nie op te gee in die lewe nie. Ouma was regtig ’n besonderse vrou met ’n hart wat oorgeloop het van liefde en omgee. Ek gaan ouma regtig baie mis, maar ek weet ouma sal altyd by my wees. Rus sag.

• Ouma, jy is een van die beste mense wat ek in my hele lewe ontmoet het, maak nie saak wat die situasie was nie, jy het altyd jou beste probeer om ons te help. My grootste dankies daarvoor! Lief vir jou, Cayden

• Aan Ma Toetie, dankie vir al Ma se liefde, en dankie vir die steunpilaar wat Ma altyd vir ons was. Ek en Marianka kon Ma dag en nag bel en ma was daar. Dankie vir die voorreg wat ons gehad het om Danieke met Ma te kon deel, Ma sal nooit weet hoe dit ons verryk het nie. Ma was so lief vir haar, sy stuur ook haar laaste soentjie vir ouma Toetie. Sal Ma en daai glimlag altyd mis. Johan, Marianka en Danieke.

• Ouma my woorde is min en die hartseer neem oor. Dit was net te vinnig! Daar was nog so baie wat ek met ouma wou deel. Maar ek berus my by God se wil. Rus sag ouma.

• Ouma. Jy was ’n legend. Jy was die sterkste vrou wat ek ken. Ek gaan ouma baie mis, maar gaan rus nou want ouma het n goeie lewe gehad. Lief vir ouma! Juan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button