Man betrap wieldiewe in Joubertstraat erf
Wieldiewe is weer bedrywig en is daar Maandagoggend van die booswigte in ’n erf in Middelburg Sentraal betrap.
’n Inwoner van Joubertstraat het op die Middelburg gemeenskapspolisiëringsforum se WhatsApp-groep om hulp gevra nadat verdagtes om 03:30 twee wiele in ’n erf gesteel het.
Hy het gesê die verdagtes is na ’n veldjie toe op die hoek van Meyer- en Dr Beyers Naudéstraat waar hulle gaan sit en vuur maak het.
Volgens Hans du Preez (een van die direkteure by die alarm-afdeling van Titon Sekuriteit), is een van sy reaksielede na die toneel.
“Ons reaksielid is na die klaer toe, en het daarna die mans in die veldjie aangespreek. Hulle was egter nie in besit van die gesteelde wiele nie, en daarom kon geen arrestasies uitgevoer word nie.”
Mnr. Du Preez meld dat minstens drie tot vier verdagtes gewoonlik betrokke is by die diefstal van wiele.
Hy het bevestig dat die diefstal van wiele nou weer stelselmatig besig is om toe te neem.