Fietsryer met opset raakgery, saak staan stil
Tien maande nadat daar twee keer oor ’n fietsryer gery is, staan die saak nog stil.
Nadat ’n tref-en-trap ongeluk Sondag vir Lumardt Pienaar (18), ’n lid van Rooies Fietsryklub, in die intensiewe sorgeenheid van Life Cosmos Hospitaal laat beland het, het Albert van Wyk sy verhaal vertel.
Lees meer hier oor Pienaar se ongeluk: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/11/05/promising-rooies-cyclist-in-icu-after-hit-and-run/
Van Wyk sê dat daar geen vordering in sy eie saak is nie, nadat hy met opset raakgery is.
Van Wyk het op 17 Februarie om 07:45 op ’n grondpad tussen mielielande naby Duvha Kragstasie gaan ry toe hy ’n bakkie van voor af sien kom.

Bakkie ry bo-oor Van Wyk en fiets
“Dit was ’n reguit stuk pad en ons het mekaar minstens vir ’n minuut al gesien. Hy het uitgeswaai my kant toe en met opset bo-oor my gery die mielielande in. Toe sit hy sy bakkie in trurat, sonder om uit te klim of te worry waar ek is.”
Van Wyk onthou dat hy op daardie stadium onder die bakkie se kajuit was, en homself in ’n bondel ingetrek het sodat daar nie oor sy kop ‘gereverse word nie’.
“Dit is toe dat hy oor my fiets ry. Deur die hele voorval het hy in sy bakkie bly sit. My een voet was nog ingehak by my cleats.”
Van Wyk het daarna half regop gekom en op die bestuurder begin gil, “wat dink jy doen jy? Is jy mal of wat? Hoekom ry jy bo-oor my?”
Die bakkiebestuurder het hom toegesnou: “ja maar jy is op privaat eiendom!”
Nêrens oor heining geklim of deur oop hek gery nie
“Ek vir hom gesê dat ek nêrens oor ’n heining geklim het nie, of deur deur ’n oop hek of iets gery het nie. En ek voel dit gee hom nogsteeds nie die reg om oor my te ry en dan weer te reverse sonder om te worry waar ek is nie. Ek en ander fietsryers ry nou al jare op daai grondpad en is nog nooit gekonfronteer of gesê dat ons op privaat eiendom is nie. Ons as fietsryers beskou ons eerder as ekstra oë op die boere se plase, en is nie daar om enige skade aan te rig nie. En indien daar ’n probleem is, kon die bestuurder my beveel het om elders te ry.”

Bakkie jaag daarna weg
Van Wyk sê: “Ek het die nommerplaat begin uitskree vir myself, en toe ek my foon uit my rugsakkie haal en die registrasienommer vir my vrou WhatsApp, toe gooi die man sy bakkie in eerste en jaag weg. Net ek, hy, sy hond en die Hemelse Vader het gesien wat daai dag gebeur het.”
Van Wyk het daarna sy seun gebel om te hoor waar hulle was, omdat hulle ’n halfuur voor hom dieselfde roete gery het.
“My seun-hulle was reeds by Ultra City, en ek het vir hom gesê om my by die huis te kry omdat hulle nie betyds by my sou uitkom nie. Ek bel toe my vriend om my te kom haal en stuur my plekaanwysing vir hom. Hy het my huis toe geneem en daarna het my vrou en my seun my hospitaal toe gevat.”
Saak staan stil
Van Wyk het ’n saak by die Witbank Polisiestasie gaan maak, maar sedertdien staan die saak egter stil.
“Die kaptein het die saak eers as vals aangeteken. Toe ek daarvan uitvind, het ek bewyse van die skade aan my fiets, en die mediese verslae aan hulle gegee as bewys. Daarna het die dossier verdwyn. Ek het by die polisiestasie gaan sit en gesê ek bly daar tot hulle die dossier kry. Die laaste wat ek van hulle gehoor het, het hulle my gebel, maar my geadresseer asof ek iemand anders raakgery het, so hulle het selfs die partye deurmekaar gehad.”
Van Wyk sê ook dat die man aan sy (Albert) se versekering ontken dat hy hom raakgery het, of enigsins in ’n voorval betrokke was.
“Ek het in die mielieland te lande gekom, so gelukkig was die grond sag en het my been nie gebreek nie. My fiets het wel groot skade gely en is R159 000 werd!”
Geen geregtigheid
Hoewel die versekering ’n bedrag uitbetaal het, het daar nog geen geregtigheid plaasgevind nie.
“Ek het aanvaar dat daar niks gaan gebeur met die persoon nie, hy moet maar aan die Here rekenskap gee. Hy kan vir die mensdom lieg, maar hy kan nie vir die Here of vir my lieg nie. Ek weet wat daai dag plaasgevind het, en ek weet hy het met opset bo-oor my gery. Maar ek het hom reeds vergewe.”
• ’n Medianavraag is aan die provinsiale woordvoerder van die polisie aangestuur, maar daar is nog nie terugvoer gekry nie.
