News

Video: Swartmamba in Aerorand gevang

Die Herpetologiese Vereniging het gister (Woensdag) ’n swartmamba in die Loskopvallei losgelaat.

’n Reuse swartmamba van 2.5m het homself Saterdag in ’n voëltjiehok gevang nadat hy drie budgies opgevreet het.

Victor Boshoff (voorsitter van LimPuma/Middelburg Herpetologiese Vereniging) sê hulle is Saterdag geskakel met die nuus dat daar ’n swartmamba in ’n voëltjiehok is.

Bernard van den Berg meld dat hy uit is na die huis in Louws Creek en die slang in die hokkie gekry het. Sy permit om slange te vang, het egter verval, en moes hy die ander herpetologiese lede kontak om uit te kom.

Die swartmamba het die budgies in die hok opgevreet en kon nie weer uitkom nie.

Met Chrisman Otten se aankoms by die het hy die swartmamba met ’n tang gevang en met Van den Berg se hulp die slang in ’n krat gesit.

Die swartmamba is gister in die Loskoparea losgelaat, saam met verskeie ander giftige slange soos ’n parmantige rinkhals en ’n paar pofadders.

@middelburgobserver

A Black Mamba was caught in Aerorand and then released in Loskop Valley! Several other dangerous serpents have also been caught in Middelburg recently.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Boshoff meld dat die slange sedert September uit hul gate kruip, maar dat hulle die afgelope twee weke baie meer slange vang.

“Ons vang soms drie tot vier slange per dag!”

Hy het gewaarsku dat mense nie slange moet probeer vang as hulle nie kennis het van hoe om dit te doen nie.

“Jy kan nie ’n swartmamba sommer agter sy kop gryp nie. Hy gáán jou pik!”

Swartmambas kom nie algemeen in Middelburg voor nie, maar Boshoff sê die slang kon saam met ’n voertuig gekom het van ander areas af wat hul natuurlike habitat is.

• Die afgelope paar jare is daar al ’n hele paar mambas in Middelburg gevang.

In April hierdie jaar is ’n massiewe swartmamba in ’n staanhorlosie gevang op ’n plot buite Middelburg.

Lees ook: https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/news/2024/04/26/video-ssss-swartmamba-boos-agter-die-glas/

• Volgens Boshoff is ’n swartmamba letterlik ’n bondel spiere en as jy hom aan sy stert beetkry, kan hy teen sy stert opkom en pik.
Hy het tydens ’n onlangse onderhoud gemeld dat mambas 6.7 myl per uur op ’n gladde oppervlak en 11.5 myl per uur in sy natuurlike habitat in bosse kan beweeg. Jy sal nie vir hom kan weghardloop as hy vasgekeer voel nie. Hy sal vir jou kom.

• Die swartmamba het neurotoksiese gif, wat beteken dat die diafragma aangeval word en die persoon binne ’n kort tydjie sukkel om asem te haal.
“As die swartmamba jou in die gesig, nek of bors pik, kan jy binne ’n halfuur sterf. Baie mense weet nie eers hulle is gepik nie, omdat sy byt baie keer pynloos is en hy so vinnig pik.”

Alle mense wat deur swartmambas gepik word, moet antiserum kry. ’n Paar jaar gelede moes ’n persoon 15 ampules antiserum toegedien word om sy lewe te red, nadat hy op ’n plaas op die Stoffbergpad meer as een keer deur ’n swartmamba gepik is.

• Pofadders kom algemeen in Middelburg voor en mense moet baie versigtig wees vir hierdie slang. Die pofadder pik vinniger as wat jy jou oog kan knip. Gif is uiters sitotoksies en dit voel asof jy jou ledemaat in kookolie druk wanneer dié slang jou pik. Weefselskade tree dadelik in en moet ’n pasiënt binne ’n uur behandeling kry.

• Die rinkhals se gif is neurotoksies (dominant) én sitotoksies. ’n Rinkhalsbyt kan tot 72 uur neem voordat die pasiënt ernstige simptome begin wys. Hierdie slang kan soms maak of hy dood is. Hy is dan op sy gevaarlikste, want as jy hom optel, sál hy byt.

• As jy ‘n slang wil laat verwyder, bel Victor by 082 697 9954, of Mark Salzwedel (ondervoorsitter) by 082 898 5242.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button