Die 19de pypbars is in Gamkastraat in Aerorand aangemeld, en spanne is tans besig met herstelwerk.
Aerorand inwoners sit nou al feitlik ’n maandlank met ernstige watertekorte, terwyl Dennesig teen Woensdag weer drie dae waterloos was.
DA raadslede Hennie Niemann (Aerorand) en Helda de Klerk (Dennesig) sê hulle is nou raadop.
Spanne is weer na Gamkastraat uitgestuur nadat ’n reuse betonpyp met ’n PVC-pyp vervang is.
Nou bars die pyp weer op ander plekke sê Niemann, wat tans in Mbombela is.
Die klagtes is al herhaaldelik onder bestuur se aandag gebring, maar die munisipaliteit is in ’n geldknyp en pypbarste is eenvoudig te veel, en wyd verspreid, vir spanne om aandag te gee.
Boonop het die munisipaliteit ook net een voorlaaier wat die rondtes moet doen.
Die onlangse pypbars in Piet Groblerstraat (Dennesig) het daartoe gelei dat hoogliggende inwoners van Dennesig minstens vyf dae lank sonder water was.
Inwoners het hul boorgate beskikbaar gestel vir inwoners om te kom water tap.
“Die probleem is dat water deur die nag terugkom, maar sodra inwoners opstaan vir werk en skool, is die krane droog,” sê De Klerk.
Niemann sê weer dat hy nie meer weet wat om te doen in Gamkastraat se geval nie, want die pyp bars nou al langs die bestaande betonlyn af.
Inwoners van beide areas is te verstane ‘omgekrap.’
Beide raadslede sê egter dat hulle lelik geskel word, terwyl hul funksie bloot is om oorsig te doen op munisipale dienste, en hulle bloot die klagtes kan aanmeld omdat hulle toegang tot depattementshoofde het, wat inwoners nie het nie.
Wat inwoners verder die josie in het, is die munisipaliteit se rapporteringsisteem, wat soms weens ‘tegniese probleme’ van lyn af is, en klagtes in volgorde waarin dit aangemeld word lys.
Die gevolg is dat die munisipaliteit soms eerste op geringe klagtes reageer, voordat daar aandag gegee word aan ernstige klagtes soos hele woonbuurte sonder water.
Die Vaalbankarea, insluitende Blackwattle Myn was onlangs meer as nege weke lank sonder water.
Inwoners het op strepe gekla, maar daar is eers gehoor gegee aan klagtes nadat die myn sy stem dik begin maak het.
“Raadslede verstaan die frustrasies want ons bly in ons gemeenskappe en het self nie water nie,” sê Niemann.
• Die munisipaliteit het nog nie op navrae gereageer nie.
