News

Bakkie bars deur muur, skote klap na jaagtog met motorfietsdiewe

’n Wit Isuzu bakkie, wat moontlik deel is van ’n sindikaat wat motorfietse in veral Gauteng steel, het vanoggend deur ’n muur in Mhluzi gejaag en het skote ook op die toneel geklap.

’n Bakkie met ’n gesteelde motorfiets agterop het vanoggend in die vroeë oggendure deur ’n muur by ’n woning in Mhluzi gebars en het skote kort daarna geklap.

Vier verdagtes het gevlug, maar daar word verneem dat die polisie intussen na die Middelburg Hospitaal ontbied is, waar drie verdagtes opgedaag het met skietwonde.

Die eienaar van die motorfiets (wat anoniem wil bly op hierdie stadium) is baie dankbaar hy het sy motorfiets teruggekry en het vertel wat hy uit oproepe en op die toneel uitgevind het.

Hulle is in die vroeë oggendure deur ’n persoon geskakel wat gevra het of hul motorfiets in hul motorhuis is. Die gesin bly in Bamboesbergstraat, Aerorand.
Die egpaar het dadelik gaan kyk en gesien dat die motorfiets wel gesteel is.

Kort daarna is die eienaar van die motorfiets ontbied na ’n toneel in Uitbreiding 8, Mhluzi, waar ’n Isuzu bakkie deur ’n muur gejaag het. Hy kon hoor hoe daar gesê word dat daar ’n patroondoppie agterop die bakkie gekry is.

Die toneel waar die bakkie deur die muur is by Uitbreiding 8.

Hy noem dat hy ook geskakel is deur ’n polisielid van Boksburg in Gauteng. Hy is meegedeel dat die voertuig, ’n wit Isuzu, al ’n geruime tyd dopgehou word en positief verbind word met ten minste 22 motorfietsdiefstalle.

“Die polisielid het gesê hulle moes egter die diewe op heterdaad betrap om hulle te kon arresteer.”

Gisteraand het die Gautengse ondersoekspan opgemerk dat die voertuig in Mpumalanga se rigting beweeg en het ’n sekuriteitsfirma die bakkie se bewegings gemonitor.

Die motorfietsdiewe het omstreeks 02:00 vanogggend in Bamboesbergstraat toegeslaan. Op videomateriaal wat gekry is van een van die bure, wys dit hoe een van die diewe op die motorfiets staan en een langs die motorfiets hardloop. Die ander twee diewe het agterna gehardloop.

@middelburgobserver

Suspected motorcycle thieves were spotted on the run with their loot via CCTV footage.

♬ original sound – MiddelburgObserver – MiddelburgObserver

Daar is nie videomateriaal waar die motorfiets op die bakkie gelaai word nie, maar die Isuzu het, met die motorfiets agterop, in Uitbreiding 8 se rigting gery. Op daardie tydstip het die verdagtes agtergekom hulle word agtervolg en het ’n jaagtog gevolg.

Die bestuurder van die bakkie het beheer verloor en daarna deur die muur geploeg. Dit blyk dat die diewe op hul agtervolgers losgebrand het en is geweervuur beantwoord. Die verdagtes het weggekom, maar het die Middelburg Hospitaal nie lank daarna nie laat weet dat daar drie gewondes by Ongevalle ingekom het.

Die gesteelde motorfiets is agterop die bakkie gekry.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button