Perde in kruising vreet vullis langs pad
Motoriste is bekommerd oor rondloperperde in Beyers Naudestraat.
Perde in Beyers Naudestraat wat kort-kort oor die pad loop en ook vullis langs die pad loop, hou ’n gevaar vir motoriste in.
James van den Heever sê hy ry al vir jare dié pad en kry die perde sporadies langs die pad naby die Beyers Naude/Mandelastraat kruising in Mhluzi.
Hy noem dat hy die perde al die afgelope drie jaar gereeld daar kry en dat hy baie bekommerd is dat hulle voor voertuie kan beland.
Boonop word daar die afgelope paar maande erg onwettig vullis gestort langs die einste roete en staan die perde gereeld aan vullis en vreet. Hy is ook bekommerd oor die welstand van die perde.
Senior inspekteur Petro Oberholzer (Middelburg Dierebeskermingsvereniging) sê hulle weet van die probleem met die perde.
Net etlike weke terug is die DBV gekontak toe twee perde langs die pad gelê het.
“Die een perd het homself nog stukkend geskop van pyn. Dr. Tobie Spies het nog saam met ons gegaan en hulle ondersoek en moes ons hulle vankant maak. Dr. Spies het ons altyd gehelp!”
Snr-insp. Oberholzer sê die twee perde wat hulle vankant gemaak het, het behoort aan ’n bejaarde man.
Sy het genoem dat sy nie by magte is om mense te beboet as hul perde los rondloop nie. Sy kan ook nie die perde verwyder nie. “Ons is nie die skut nie.”
Mense wat wil hê daar moet opgetree word teen die eienaar van die perde, moet die munisipale polisie kontak.
