News

Jy ‘teken doodsvonnis’ vir skilpad as jy hom aanhou

As jy gevang word met enige inheemse diere soos skilpaaie of krimpvarkies, is jy in groot moeilikheid!

 

As jy ’n skilpad aanhou, ‘teken jy sy doodsvonnis’, want hy sal nooit weer in die natuur kan oorleef nie!

Boonop is daar mense wat gate in skilpaaie se doppe maak, sodat hulle soos honde vasgemaak aan kettings op persele kan bly!

Gate in skilpaaie se doppe

“Ek het hoeveel skilpaaie met gate in hul doppe by my, omdat mense hulle soos troeteldiere aangehou het. Ons sal hulle nooit weer kan loslaat nie, want as hulle eers aangehou is as troeteldiere, sal hulle nooit in die natuur weer kan oorleef nie! Hulle dra dan ook ’n virus wat ander skilpaaie in die natuur kan doodmaak,” het ’n omgekrapte Victor Boshoff hierdie week uitgeroep.
Boshoff is die voorsitter van die LimPuma Herpetologiese Vereniging, wat Middelburg insluit.

Die gat in die skilpad se dop waar ’n ketting aan vas was om hom in ’n erf te hou.

Hy het hom hierdie week weer uitgespreek teen mense wat onwettig inheemse spesies soos skilpaaie en krimpvarkies aanhou.

Die herpetologiese vereniging is bekend in die dorp, omdat hulle talle kere uitgaan om slange by huise en besighede te verwyder. Die afgelope twee weke was hulle erg bedrywig om ook skilpaaie en selfs ’n krimpvarkie te gaan haal.

Jy is net so skuldig as jy skilpad koop

’n Gesin het ’n skilpad vir R200 by ’n persoon gekoop, omdat hulle bang was dat hy die skilpad sou eet. Boshoff meld dat wat hulle gedoen het, egter onwettig is. “Dit is deel van vryehandel. As jy die skilpad koop, is jy net so skuldig soos die persoon wat hom verkoop. Onthou, die wet is duidelik, jy gaan nie wegkom as hulle jou vang en jy sê jy het nie geweet nie. Skakel ons of die polisie!”

Hy meld dat hy tans verskeie skilpaaie, sommige met die gate in hul doppe, by sy huis het wat hy moet versorg. “Ek moet die res van hul lewens na hul kyk.”

• Stephan Grobler (gemeenskapspolisiëringslid, Pullenshope) is verlede week uitgeroep na ’n huis in Pullenshope waar ’n skilpad by die erf ingegaan het. Hy het die skilpad gevat en later dieselfde dag aan Dieter Coersmeier (lid van die herpetologiese vereniging) oorhandig. Dit was ’n wilde skanierdopskilpad en is reeds weer losgelaat.

Stephan Grobler met die skanierdopskilpad wat in Pullenshope gevind is.

Krimpvarkie het almal se hande gelek

• Boshoff noem dat die krimpvarkie wat by mense se huis aangestap gekom het in Middelburg, beslis ook onwettig aangehou is. “Hy het hom nie eers opgerol van vrees nie, maar almal se hande gelek. Dit beteken hy was iewers aangehou.”

Die krimpvarkie wat by ’n erf ingestap het en almal se hande gelek het.

• Boshoff, asook adj. Stoney Steenkamp (van die Veediefstal- en Bedreigde Spesie-eenheid) nooi die gemeenskap om hulle te skakel as hulle onseker is of hulle onwettige spesies in hul besit het.

’n Mens mag geen inheemse reptiel, slang of ander spesies uit die natuur aanhou nie.

Selfs permitte nodig vir seker voëlspesies

“Min mense weet egter dat hulle selfs permitte nodig het vir sekere voëlspesies. As jy onseker is, skakel ons, ons kan help.”

Vir enige navrae, skakel Victor by 082 697 9954, Mark Salzwedel (ondervoorsitter) by 082 898 5242, adj. Steenkamp by 082 303 9935 of die Veediefstal- en Bedreigde Spesie-eenheid by 013 249 1521.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button